Verlede maand
Maak piesangbrood
TUISGEBAK: Sit die piesangbrood louwarm voor met ’n ordentlike leksel botter op. FOTO VERSKAF  ~ 

IN ’N onsekere wêreld is daar darem ’n paar dinge waarvan jy nog seker kan wees.

Een is dat piesangs soms oorryp gaan word voordat jy by hulle uitkom.

Dit gebeur dalk hoofsaaklik in jou kombuis, maar piesangs kan net so maklik oud word in die voedselkrat op jou toervakansie.

Wanneer jy daardie bruin ouderdomsvlekke op jou piesangs sien, stuur jy hulle ouetehuis toe?

Nee, jy doen eerder iets fantasties met hulle en bak ’n piesangbrood in ’n potjie op die vuur!

6 ryp piesangs

1 k. botter (gesmelt)

1 k. suiker

4 eiers

2 t. suurlemoensap

2 k. witbrood- of koekmeel

2 t. koeksoda

1 sopie (25 mF) melk

Laat waai:

1. Raak in ’n geskil betrokke met die piesangs. Sny hulle dan in kleiner stukke en druk die stukke fyn met ’n vurk.

2. Roer die botter en suiker dan saam in jou nr. 10-platboom­potjie totdat jy ’n gladde mengsel het.

Voeg die eiers by en meng deeglik. Jy kan die mengwerk met ’n vurk óf lepel doen.

3. Gooi nou die piesang en suurlemoensap by en meng dit deeglik totdat jy ’n gladde deeg het.

4. Voeg die meel en koeksoda by en meng dit in.

Laastens gooi jy die melk by en meng die spulletjie deur totdat jy ’n gladde deeg het.

5. Sit die deksel op die potjie en pak ’n paar warm kole bo-op. Sit die potjie dan op ’n staander en bak die piesangbrood oor medium-warm kole tot gaar.

Dit behoort so 50 minute te neem totdat hy gaar en goudbruin is, maar as jy meer hitte het, kan dit vinniger gaan. Loer dus ná 30 minute sodat hy nie brand nie.

6. Sny die piesangbrood in stukke en sit louwarm voor met ’n ordentlike leksel botter op.

DIÉ week se resep kom weer uit Jan Braai se boek Shisa­­nyama: Braairesepte van Suid-­ Afrika. As jy meer resepte van dié bobaas-braaier wil sien, moet jy nie sy show, Jan Braai vir Erfenis, elke Vrydag 18:00 op kykNET & Kie (DStv-kanaal 144) misloop nie.

Vandag se resep wys jou hoe om ’n heerlike piesangbrood in ’n platboompotjie op die vuur te maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters