26 dae gelede
Lekka Chakalaka
hoeksteen: Boerewors, krummelpap en chakalaka is die hoeksteen van Suid-Afrika se kultuur- en braai-erfenis.foto verskaf  ~ 

GENOEG vir 6 mense

Bestanddele:

3 sopies olyfolie

3 uie (opgekap)

3 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

1 teelepel fyn gemmer (vars gerasper)

2 vars brandrissies (opgekap)

3 soetrissies (enige kombinasie van groen, geel of rooi, ontpit en opgekap)

4 wortels (geskil en gerasper of opgekap)

2 lourierblare

1 sopie medium-sterkte kerriepoeier

1 sopie paprika

1 blikkie opgekapte tamaties

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

1 blikkie sousboontjies

Sout en peper (na smaak)

Vars koljander (om mee op te dien)

Metode:

1. Verhit die olie in jou potjie en braai die uie tot deurskynend.

2. Gooi die knoffel, gemmer, brandrissies, soetrissies, wortels en lourierblare by en roer saam met die uie rond.

3. Gooi nou die kerriepoeier en paprika by en laat braai nog ’n minuut lank om die speserye te rooster, maar gaan aan na die volgende stap voordat dinge brand.

4. Voeg nou die tamaties en tamatiepasta by en meng deeglik. Sit die deksel op en laat die potjie prut op medium tot lae hitte vir 30 minute sodat die geure kan ontwikkel en die wortels en enige ander harde bestanddele kan sag kook.

5. Gooi die bone by, meng deur en laat prut vir nog 10 minute.

6. Proe en gooi sout en peper by as jy lus is.

7. Sit voor met vars koljander en saam met krummelpap en gebraaide boerewors.

SÓ MAAK JY KRUMMELPAP

3 koppies mieliemeel

2 koppies water

1 teelepel sout

’n Tweetandvurk

1. Kry die water aan die kook en gooi die sout by.

2. Mik na die middel van die pot en gooi al die mieliemeel in die water. Jy behoort nou ’n “mieliemeel-sandkasteel” in die pot te hê. Die basis is onder water en die boonste deel steek in die middel van die pot bo die water uit.

3. Sit die deksel op en skuif ’n paar kole onder die pot in. Jy wil aan die flou kant van medium hitte wees en die water moet effens borrel, maar eintlik moet die res van die water in die mieliemeel stoom. Jy kan een of twee keer kyk of daar genoeg hitte is en of die water darem in stoom verander, maar moenie te dikwels kyk nie, want stoom gaan verlore elke keer dat jy die deksel oplig.

4. Ná 20 minute haal jy die deksel af en gebruik die tweetandvurk om die sandkasteel te breek. Roer die pap met mening saam met enige water wat nog in die pot oor is totdat die inhoud soos krummelpap lyk.

5. As jy dink sake lyk ’n bietjie droog, voeg ’n bietjie water (koud of warm) by en roer die pap met die tweetandvurk.

6. Sit weer die deksel op en laat hom aanhou stoom oor matige hitte vir nog so 20 minute.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters