4 maande gelede
Lamskerrie impress
MAAK WAVES: Hierdie resep is ’n wenner. Jy sal jou gaste impress en hulle sal terugkom vir nog.FOTO VERSKAF  ~ 

HIERDIE resep het oorspronklik behoort aan Harri wat van Indië kom, maar in Bloemfontein gewerk het.

Hy het die resep vir sy buurman geleer wat dit op sy beurt met Ryno gedeel het, wat dit aan my gestuur het.

Ryno gebruik die resep wanneer hy aan potjiekoskompetisies deelneem en sê hy het al ’n klomp pryse daarmee gewen.

WAT JY NODIG HET

(vir 6 mense)

VIR DIE VLEIS

2 kg lamskenkel- of lams­nekstukke

1 teelepel sout

1 teelepel peper

1 suurlemoen (se sap)

500 ml amasi (suurmelk, ook bekend as maas)

2 teelepels borrie

VIR DIE KERRIE

2 sopies olyfolie

3 uie (opgekap)

3 heel naeltjies

3 kardemompeule

3 lourierblare

1 sopie garam masala

1 teelepel fyn koljander

1 teelepel fyn kaneel

3 knoffelhuisies (gekneus en fyngekap)

vars gemmer, in volume net soveel as die knoffel (gerasper)

2 vars brandrissies (opgekap)

2 aartappels (in blokkies gesny)

2 wortels (gesny)

2 tamaties (opgekap)

2 sopies appelkooskonfyt

LAAT WAAI

1. Sit die vleis in ’n bak en gooi sout en peper by. Meng deeglik en gooi nou die suur­lemoensap, amasi en borrie by. Meng alles en laat dit rus totdat die resep weer daarna vra. Dit kan ’n paar minute rus, of ’n paar uur, maar dan moet jy vir die vleis ’n rusplekkie in jou yskas kry.

2. Gooi die olie en uie in jou leë potjie. Laat daardie potjie ’n bietjie gees vang deur hom op jou vuur te sit. Braai die uie tot deurskynend.

3. Nou gooi jy ál die speserye by, die knoffel, gemmer en brandrissie ook, en braai dit vir ’n minuut of twee totdat hulle geur deurkom en dit bruin raak. Gaan aan na die volgende stap voordat die speserye brand.

4. Gooi die vleis en ál sy marineer-vriende in die potjie. Meng alles en kry die vleis aan die prut. Laat dit so sorgeloos prut vir omtrent 10 minute.

5. Hierna voeg jy die aartappels, wortels, tamaties en appelkooskonfyt by. Wikkel die spulletjie rond totdat dit lekker gemeng het, sit die deksel op die pot en laat prut vir 2 uur.

6. Lig af en toe die deksel op om te loer en te voel met jou houtlepel of iets teen die bodem vasbrand. As die potjie droog lyk en dreig om te brand, gooi ’n bietjie water by of verminder die hitte onder die potjie sodat hy minder aggressief prut – of doen sommer albei. Moet nooit te veel water bygooi nie, want ons maak mos nie sop nie.

7. Ná twee uur se prut wil jy ’n kerrie hê waarvan die sous dik genoeg is na jou smaak. As dit nog nie heeltemal reg is nie, laat dit sonder die deksel prut totdat jy tevrede is. “Tevrede” beteken die vleis is sag en kom van die been af los as jy dit met ’n vurk aanmoedig. Dit beteken ook die sous is soos jy dit wil hê.

8. Dien die kerrie op met rys of roosterkoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters