Verlede maand
Koesisters
soet: Anders as koeksisters, word koesisters tradisioneel in die Bo-Kaap met ’n speserygegeurde deeg gemaak en is ovaalvormig, nie gevleg nie.foto verskaf  ~ 

LEWER 18 koesisters.

Bestanddele:

Deeg:

7 mF heel anys

2,5 mF fyn kardemom

2,5 mF fyn kaneel

2,5 mF fyn gemmer

500 mF koekmeel

Knippie sout

10 g kitsgis

60 mF suiker

½ eier, geklits

185 mF louwarm water

15 mF botter

30 mF olie

olie vir diepbraai

Stroop:

375 mF water

375 mF suiker

paar druppels roos- of lemoenbloeiselwater (die smaak moet baie subtiel wees)

Droë klapper vir rol

Roos- of suulemoenblare vir versiering

Metode:

1. Maal die speserye in ’n elektriese maler tot ’n fyn poeier en sif in ’n groot bak.

Voeg die meel, sout, gis en suiker by en meng.

Maak ’n holte in die middel van die meelmengsel en voeg die eier by.

2. Meng die louwarm water, botter en 30 mF olie in ’n aparte mengbak.

Voeg die meelmengsel by terwyl jy met ’n houtlepel roer om ’n nat, klewerige deeg te vorm.

Bedek met kleefplastiek en laat die deeg goed rys.

3. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak. (Gebruik heelwat meel.)

Rol die deeg met jou hande in ’n wors van 5 cm in deursnee.

4. Sny in 2 cm-stukke en maak die punte rond sodat dit ’n ovaal vorm kry.

Plaas op ’n kleefvrye oppervlak. Laat rus sowat 15 minute, terwyl die olie verhit.

5. Braai in olie oor medium hitte (170° C) tot bruin en deurgaar, sowat ses op ’n slag.

Dreineer goed op kombuispapier.

Stroop:

1. Plaas die water en suiker in ’n medium kastrol en kook oor hoë hitte tot stroop.

Voeg ’n paar druppels roos- of lemoenbloeiselwater by vir ’n subtiele smaak.

2. Verlaag die hitte.

Laat die stroop saggies prut, prik die koesisters en plaas in die warm stroop.

Draai om sodat hulle weerskante bedek is met die stroop.

3. Rol die helfte van die koesisters in klapper.

Strooi die helfte van die klapper op ’n plat bord of bakplaat.

Skep die koesisters uit die stroop op die klapper, strooi die res van die klapper oor en rol tot goed bedek.

Om op te dien:

4. Sit die koesisters op ’n mooi opdienbord en versier met roos- of suurlemoenblare.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters