3 maande gelede
Kaaspannekoek
smaaklik: Die gevulde pannekoek is heerlik met ’n kaassous oor.foto verskaf  ~ 

LEWER 12-16 pannekoeke.

Bestanddele:

Vulsel:

60 ml botter

1 middelslag-ui, gekap

1 middelslag- rooi, groen en geel soet­rissie, gekap

250 ml cheddarkaas, gerasper

50 ml vars pietersielie, gekap

Kaassous:

15 ml botter

30 ml koekmeel

sout na smaak

5 ml growwe swartpeper

250 ml melk

100 g cheddarkaas

50 ml vars pietersielie, gekap

Pannekoeke:

150 g koekmeel

15 ml speserymengsel met knoffel, suurlemoen en pietersielie

60 ml papawersaad

90 ml sesamsaad

3 eiers, geklits

350 ml melk

50 ml botter, gesmelt

sout na smaak

Metode:

Vulsel:

Smelt die botter en smoor die gekapte ui en soetrissies 3-5 minute. Laat effens afkoel. Roer die res van die bestanddele by en hou eenkant tot benodig.

Kaassous:

Smelt die botter in ’n klein kastrol. Voeg die meel, sout en peper by. Kook 30 sekondes. Voeg die melk by en roer tot dik en romerig.

Verwyder van die hitte en roer die cheddar en pietersielie by. Plaas kleefplastiek oor die sous om te keer dat ’n vel vorm. Hou die sous eenkant.

Pannekoeke:

Sif die koekmeel in ’n bak. Voeg die speserymengsel en die twee soorte sade by en meng.

Klits die eiers, melk, botter en sout in ’n afsonderlike bak en klits goed.

Maak ’n holte in die meelmengsel, giet die eiermengsel daarin en klits tot glad. Laat staan 30-60 minute.

1. Verhit ’n pannekoekpan, bespuit met kleef­werende sproei en bestryk met die gesmelte botter.

2. Voeg, indien nodig, ’n bietjie melk by om die beslag te verdun. Giet 45 ml beslag in die pan en bedek dit 1-2 minute totdat die pannekoek onder goudbruin is.

3. Draai die pannekoek in die pan om en bak 30 sekondes. Keer die pannekoek dan op ’n bord uit. Herhaal met die res van die beslag. Stapel die pannekoeke opmekaar, met botterpapier tussenin.

Om voor te sit:

Smeer vulsel oor die een helfte van ’n pannekoek en vou ’n driehoek. Giet sous oor. Herhaal. Sit die pannekoeke een-een voor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters