3 maande gelede
Hoender-jalrezi
eenvoudig: Dit klink dalk deftig en uitheems, maar dis eintlik net ’n normale hoenderkerriepotjie wat gewild is omdat hy geurig is. foto verskaf  ~ 

JALFREZI is ’n kerriegereg wat uit Indië kom. Volgens Wi­ki­pedia het dit ontstaan toe mense oorskiet saam met uie en rissie gebraai het. Dié resep maak genoeg kos vir vier mense.

BESTANDDELE

2 sopies olyfolie

1 ui, gekap en in skywe gesny

1 groen soetrissie, ontpit en in repe gesny

1 vars brandrissie, gekap

2 knoffelhuisies, gekneus en gekap

vars gerasperde gemmer, net soveel soos die knoffel

4 hoenderborsies (so 600 g), in blokkies gesny

1 t (5 ml) brandrissie­poeier

½ sopie borrie

1 sopie fyn komyn

1 sopie fyn koljander

1 t. (5 ml) sout

1 blik gekapte tamaties

water

½ k. (125 ml) dubbelroomjogurt

peper

lemmetjie of suurlemoen

VIR VOORSIT

gaar basmati-rys

vars koljander

lemmetjie- of suurlemoenwiggies (opsioneel)

METODE

1. Verhit die olie in jou potjie op die vuur. Braai die ui en soetrissie tot sag.

2. Voeg die brandrissie, knoffel, gemmer en hoender by en braai totdat die hoender gaar is.

3. Voeg die brandrissiepoeier, borrie, komyn, koljander en sout by. Meng als deeglik en braai 1 minuut.

4. Voeg nou die tamaties by. Krap alles los wat aan die pot se bodem vassit en meng deeglik. Gooi ’n bietjie water by as dinge vir jou droog lyk. Sit die deksel op en laat prut 20 minute.

5. Loer ná 20 minute of daar nog genoeg vloeistof in is. Laat prut 10 minute so oop, totdat jy tevrede is dat die sous dik genoeg is. Meng die jogurt by. Proe aan die potjie, geur dit met die sout en peper en druk vars lemmetjie daaroor uit. As jy wil, kan jy ’n lepel of twee suiker byroer.

6. Laat die potjie nog ’n paar minute prut. Sit die kerrie met basmati-rys voor. Garneer met die koljander en druk nog sap daarop uit as jy lus het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters