Verlede maand
Hoe om forrel te braai
HEERLIK: Forel is ’n lekker vis om te braai en Bridget Bartleman, ’n sjef, het gewys hoe om dit te doen op die wal van die Kleinrivier-lagoon buite Stanford in die Overberg-omgewing. foto verskaf  ~ 

GENOEG vir ses mense

Bestanddele:

1 heel vars forel (skoongemaak en gevlek met die vel aan)

1 sopie olyfolie

1 sopie growwe sout

1 t. gemaalde swartpeper

3 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

3 vars suurlemoene

1 houertjie vars dille

Metode:

1. Vat ’n skerp mes en maak skuins snye in die vis se vel. Bedruip met olyfolie en gooi sout en peper oor. Werk die sout en peper met jou hande by die gleuwe in. Sit ook van die opgekapte knoffel in elke gleuf.

2. Gooi nou sout en peper oor die binnekant van die vis. Sny een suurlemoen en sit die skywe binne-in die vis. Pak dille en knoffel in die holte waar die vis se binnegoed was.

3. Sit die vis in ’n toeklaprooster om seker te maak die vulsel bly binne. Braai die vis sowat 12-15 minute lank oor warm kole en draai die vis elke minuut of twee totdat die vleis pienk en die vel geskroei en bros is.

Vat die ander suurlemoene en druk hulle sap oor die buitekant van die vis uit, terwyl jy braai.

4. Haal van die vuur af en dien dadelik op.

5. Dien op met nóg sout, peper, suurlemoenwiggies en, as jy my vra, met pienk rosé-wyn om by die mooi kleur van die vis te pas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters