3 maande gelede
Hertzoggies
soet: Hierdie resep is ’n kruising tussen die geliefde hertzoggie en s’more – die Amerikaanse kampvuurgenot van geroosterde malvalekkers en sjokolade tussen twee koekies.foto verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer 12 tertjies.

Bestanddele:

Broskors:

500 mF koekmeel

60 mF strooisuiker

Stewige knippie sout

10 mF bakpoeier

120 g botter, in blokkies

2 eiers

30 mF koue water

Malvalekkers:

30 mF gelatienpoeier

125 mF koue water

415 g strooisuiker

125 mF kookwater

250 mF geroosterde klapper

125 mF gedroogde appelkoosrol, in blokkies gesny

Versiersuiker vir strooi

Appelkoosvulsel:

340 mF gedroogde appelkose

250 mF water

250 mF suiker

10 mF suurlemoensap

2,5 mF amandelgeursel

125 mF room

Appelkoospoeier:

125 mF gedroogde appelkose, kliphard gevries.

Metode:

Broskors:

1. Meng die meel, suiker, sout en bakpoeier in ’n voedselverwerker.

2. Voeg die botter by en meng tot dit lyk soos fyn broodkrummels. Voeg die eiers en water by en pols tot die deeg bymekaarkom.

3. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

4. Spuit 12 klein losboompannetjies met kleefwerende sproei en voer dit met die deeg uit. Plaas vir 15 minute in die yskas. Sny die deegrande netjies af.

5. Voorverhit die oond tot 180° C. Bak die korsies ongeveer 12 minute blind tot goudbruin en laat afkoel.

Malvalekkers:

1. Voer ’n 20 x 35 x 3 cm-pan uit met bakpapier.

2. Week die gelatien in koue water in die bak van ’n staanmenger. Plaas oor ’n dubbelkoker en smelt.

3. Voeg die strooisuiker en kookwater by die gelatien en klop 8 minute teen hoë spoed met ’n draadhaak.

4. Vou die klapper en appelkoosrol by. Giet die malvalekkermengsel in die voorbereide pan.

5. Verkoel in die yskas tot gestol en sif versiersuiker bo-oor. Sny in reghoeke, dieselfde grootte as die pannetjies en verbruin die kante met ’n blaasvlam.

Appelkoosvulsel:

1. Kook die appelkose, water en suiker in ’n medium kastrol oor medium hitte totdat die appelkose sag is.

2. Laat ongeveer 30 minute afkoel.

3. Plaas die appelkose, suurlemoensap, geursel en room in ’n voedselverwerker en pols tot ’n fyn puree.

Appelkoospoeier:

1. Plaas die gevriesde appelkose in ’n voedselverwerker en verpoeier.

Aanmekaarsit:

1. Spuit die appelkoosvulsel in die gebakte tertdoppies met ’n spuitsak.

2. Sit die malvalekker-reghoeke bo-op die appelkoosvulsel en giet donkersjokolade bo-oor die s’mores.

3. Versier met klapperskaafsels, appelkoospoeier en sjokoladeskerwe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters