3 maande gelede
Gekruide riboog
LEKKER: Die helfte van die pret van hierdie resep lê in die bereiding. FOTO’S VERSKAF  ~ 

GENOEG vir vier mense

Eerste ronde kruiesout:

4 riboog-steaks

gemaalde swartpeper

olyfolie

Laaste ronde kruiesout:

1 sopie olyfolie

1 teelepel paprika

1 teelepel brandrissiepoeier of -vlokkies

1 teelepel growwe sout

4 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

Metode:

1. Beplan jou braai vir die naweek wat kom. Kry die rib­oog-steaks so 5 dae voor die braai. Vir die goue medalje, gaan na ’n slagter wat jy vertrou en skaf van sy droog-ryp­gemaakte steaks aan. Maar as dit nie moontlik is nie, kry jou steaks by wie ook al jou vleis verskaf.

2. Vryf die steaks ordentlik in met varsgemaalde swartpeper en smeer dit dan met olyfolie. Dit moet jy vyf dae voor die braai doen. Hierna draai jy dit styf in kleefplastiek toe en sit dit in jou yskas.

3. Een dag voor die braai meng die olyfolie, paprika, brandrissiepoeier of -vlokkies, sout en knoffel. Haal nou die steaks uit, vryf dit met hierdie mengsel in en maak seker dit is alkante met die mengsel bedek. As jou kruiesout te min is, maak nog.

4. Sit die steaks in ’n verseëlde houer (bv. ’n bak met ’n deksel) en los dit in die yskas totdat jy reg is om die volgende dag te braai.

5. Dit hang af hoe dik jou steaks is, maar jy behoort dit vir so 8 tot 10 minute oor warm kole te braai tot medium-rou.

6. Riboog-steaks sit ’n mens gewoonlik in heel porsies voor. Dis anders as kruissnit en lendesnit, wat jy gerus in repe kan sny. So dis nie nodig om die steaks te laat rus nie. Dis hulle net op!

As jy nog geurmiddels nodig het, kan jy die steaks natuurlik met ’n bietjie gesmelte botter daarop voorsit. En omdat ons nie sewe sakke sout oorgegooi het nie, kan jou gaste gerus ook sout na smaak byvoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters