8 maande gelede
Eiervrugsosaties
OOR DIE KOLE: Hierdie vrug se Franse naam is aubergine, maar in die Ooste sal jy makliker regkom as jy vra vir ’n brinjal. foto verskaf  ~ 

OM DINGE makliker te maak, het ek hierdie resep aangepas sodat jy die eiervrugte sommer in blokke sny, in ’n bak of sak marineer en op sosatiepenne ryg vir die braai. Geniet hom!

Bestanddele (genoeg vir 8 sosaties):

Vir die eiervrug:

1 kg eiervrug (seker so 3-4 eiervrugte, dit hang af hoe groot hulle is)

½ koppie sojasous

1 teelepel brandrissievlokkies

8 sosatiepenne

Vir die sous:

2 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

1 koppie gewone dubbel­room­jogurt

1 sopie (25 mF) suur­lemoensap (of die sap van ’n halwe suurlemoen)

1 sopie (25 mF) olyfolie

1 teelepel sout

1 teelepel peper

1 teelepel fyn komyn

1 sopie (25 mF) vars pietersielie (opgekap)

Metode:

1. Meng die sojasous en brandrissievlokkies in ’n bak of verseëlbare plastieksak.

2. Was die eiervrugte, sny hulle in blokkies en gooi by die marinade.

Roer die blokkies rond en laat dit dan ’n uur lank marineer.

3. Intussen maak jy die sous reg deur al die bestanddele deeglik te meng.

4. Wanneer die kole reg is, ryg jy die gemarineerde eiervrugblokkies op die sosatiepenne in.

Braai dan die sosaties in ’n toeklaprooster oor matige kole tot sag en gaar.

5. Sit die sosaties voor saam met ’n ordentlike leksel jogurtsous.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters