6 maande gelede
Dié side dish steel dalk net die show
KOM SKEP! Dié bykos pas by enige soort braaivleis en selfs vis.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE resep vir dié baie deftige bykos kom van ene Wy­nie. Hy is reeds oorlede, maar sy vriende het dit vir Jan aangestuur.

Die gereg pas baie lekker by enige soort braaivleis en selfs by vis. Om dit te berei is so eenvoudig soos om vuur te maak, belowe Jan. As jy dit as ’n bygereg voorsit, maak dié resep genoeg vir ses mense.

WAT JY NODIG HET

1 kg jong aartappels, gewas

3 tots botter

1 tot olyfolie

1 ui, gekap

8 heel knoffelhuisies, geskil

250 g knopiesampioene

’n takkie of 3 roosmaryn

1 t (5 ml) sout

1 t (5 ml) swartpeper

1 k (250 ml) swart olywe,
ontpit

1 x 250 g-pakkie sun-dried tama­ties in olie

1 tot vars, gekapte pietersielie vir voorsit

LAAT WAAI

1. Sit jou potjie met soutwater op die vuur. Kook die aartappels daarin totdat hulle sag is. Toets dit met ’n mes of vurk.

2. Haal die potjie van die vuur af en gooi die water af. Sit die potjie terug op die vuur. Voeg die botter, olyfolie, ui, knoffel, sampioene, roosmaryn, sout en peper by die aartappels.

3. Roer totdat al die botter gesmelt het. Verhit verder totdat die aartappels lekker in die botter begin braai. Gebruik ’n aartappeldrukker, die agterkant van ’n houtlepel of die onderkant van ’n wynbottel en druk liggies teen elke aartappel totdat dit kraak. As jy dit doen, sal die gegeurde botter, olyfolie en lekker sappigheid intrek.

4. Laat die aartappels nog so 10-15 minute braai terwyl jy met jou houtlepel seker maak alles raak bruin. Kyk ook dat niks aanbrand nie. Hou so aan totdat die aartappels, sam­pioene, ui en knoffel goudbruin is. Roer die aartappels rustig om, nie so rof dat hulle uit mekaar begin val nie. ’n Mens is nie hierso met mash besig nie.

5. Roer die ontpitte olywe en sun-dried tamaties versigtig by die aartappels. Laat die spulletjie nog so ’n paar minute braai.

6. Sprinkel die gekapte pietersielie oor en wink jou gaste nader. Jan skep die gereg graag net so uit die pot op, want die gietyster help om die aartappels warm te hou totdat almal daarvan op hulle bord het. Vir groter trefkrag kan jy selfs net voordat jy opskep gekrummelde feta oor die aartappels strooi. Smaaklike ete!

DIÉ week se resep kom ook uit Jan Braai se boek Shisa­nyama: Braairesepte van Suid-Afrika. As jy meer resepte van dié bobaas-braaier wil sien, moet jy nie sy show, Jan Braai vir Erfenis, elke Vrydag 18:00 op kykNET&Kie (DStv-kanaal 144) misloop nie.

Met dié resep kan jy met bykos spog wanneer jou pelle weer kom braai.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters