3 maande gelede
Dié ene vat die koek
fantasTies: Daar is geen beter manier om hierdie broodpoeding te maak as in ’n gietysterpot op die vuur nie. foto’s verskaf  ~ 

BROOD is op sy eie al onweerstaanbaar. Maak hom ’n poeding, en jy’t een vir die boeke. Dié resep lewer genoeg vir 8 mense.

Bestanddele:

1 x 385 g-blik kondensmelk

’n leë kondensmelkblikkie vol water

2 k (500 ml) melk

2 eiers

1 t (5 ml) vanieljegeursel

2 sopies botter

2 sopies appelkooskonfyt

10 snye witbrood

1 blikkie tertappels

½ blikkie droë klapper (opsioneel)

½ sopie fyn kaneel

Metode:

1. Smeer die binnekant van jou nr. 10-platboompot met botter.

2. Giet die kondensmelk in die platboompot uit. Maak die leë blikkie vol water en giet dit ook by. Meng die twee tot glad. Voeg nou die melk, eiers en vanieljegeursel by en meng die hele spulletjie deeglik.

3. Smeer die botter en appelkooskonfyt aan een kant van al die snye brood. Sny die brood in kleiner stukke – blokkies of driehoeke.

4. Druk die stukke brood en die tert-appels in die vloeistof in die potjie.

5. Strooi die klapper oor (as jy dit gebruik) en skep ’n paar lepels appelkooskonfyt by.

6. As dinge in die pot vir jou droog lyk, giet nog ’n bietjie water of melk by. Dit behoort nie droog te lyk nie, maar dalk was jou brood baie dors!

7. Strooi laastens die fyn kaneel oor die poeding. Laat hom rus om te herstel ná al die stres en opwinding.

8. Wanneer jy dink dis die regte tyd om die poeding te bak, dan is jy reg, dít is die regte tyd.

9. Sit die deksel op, kry kole onder die pot en skep ’n paar kole op die deksel. Jy wil die poeding dwarsdeur bak – sonder dat enige deel brand. Dit kan enige iets van 30 minute tot 1 uur neem. Toets vroeër eerder as later of dit gaar is.

10. Die poeding is reg wanneer sy bokant goudbruin is. As jy ’n mes insteek en dit kom redelik skoon uit, weet jy vir seker dis reg.

EN ...

Sit voor met room, roomys en/of vla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters