9 maande gelede
Braaibroodjie vannie Kaap
briljant: Die Kaapse gewoonte om ingelegde groenvye met alles te bedien, is die inspirasie vir dié resep.foto’s verskaf  ~ 

DIÉ resep lewer genoeg vir ag mense.

Bestanddele:

2 rooi-uie (in dun skywe gesny)

16 snye witbrood

sagte botter (om die snye mee te smeer)

300 g mozzarellakaas (gerasper)

1 klein houertjie (200 g) fetakaas met swartpeper (gekrummel)

8 ingelegde groenvye (opgekap)

Metode:

1. Gooi ’n bietjie botter of olie in ’n pot of pan en karameliseer of braai die uie bruin op die vuur of stoof.

2. Botter al 16 snye aan die een kant en pak 8 van die snye met die botterkant ondertoe op ’n groot skinkbord uit.

3. Rasper die mozzarellakaas, gooi die fetakaas se vloeistof af en verkrummel, en kap die groenvye in klein stukkies op.

4. Deel die gekarameliseerde uie, mozzarella, feta en vye eweredig op tussen die ag snye brood op die skinkbord.

Pak dan die ander ag snye elkeen op ’n maatjie met die botterkant wat boontoe en buitentoe kyk.

5. Sit die broodjies in ’n toeklaprooster en braai oor medium-warm kole.

Draai gereeld om totdat die broodjies goudbruin aan die buitekant is en die kaas aan die binnekant gesmelt is.

En... om voor te sit:

Daar is geen én nie. Hulle is volmaak net so.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters