4 maande gelede
Blombredie
TRADISIONEEL: Waterblommetjies sou seker die nasionale blom van Suid-Afrika gewees het as die protea dit nie reeds was nie!foto’s verskaf  ~ 

HIERDIE blom is endemies aan die Boland en hy blom in die winter en lente.

Dié resep vir waterblommetjiebredie lewer genoeg vir ag mense.

Bestanddele:

Vir waterblommetjies:

1 kg waterblommetjies (skoongemaak)

1 sopie (25 mF) sout

baie water

Vir bredie:

1 sopie (25 mF) plantolie

1 kg stowelamsvleis

1 teelepel sout

1 teelepel swartpeper

1 ui (fyngekap)

½ koppie witwyn

½ koppie groente-aftreksel

2 aartappels (gewas en in blokkies gesny)

1 sopie suurlemoensap

Metode:

1. Vir iets wat in die water groei, is waterblommetjies verbasend vuil! In dié opsig is hulle nogal soos mossels en die seekoei.

Vir die beste resultate en eetgenot moet jy die waterblommetjies eers ordentlik skoonmaak. Begin deur al die buitenste blare af te breek en die harde stingels af te sny.

2. Nou moet jy hulle lekker was in ’n bak soutwater. Sand is nie jou grootste vyand nie. Jy moet basies net al die ander stukkies gras en blaartjies wat aan hulle vassit, afwas.

Gebruik jou hande en skommel hulle ’n bietjie in die water rond tot jy dink hulle is skoon. Sodra jy dink hulle is skoon, ís hulle skoon.

Tradisioneel word waterblommetjies oornag in water gelos, maar dit maak eintlik geen verskil aan die gereg nie – jy wil maar net hê hulle moet skoon wees.

3. Wanneer jy begin braai, verhit die olie in ’n potjie op ’n warm vuur. Gooi nou die vleis, sout en peper by en braai totdat die stukkies vleis aan alle kante bruinerig is.

4. Gooi die ui by en roerbraai tot sag. Dit neem so 5 minute.

5. Gooi die wyn en groente-aftreksel by, sit die deksel op en laat dit prut. Hou hom so aan die prut op lae hitte (’n paar kole met net af en toe ’n vlammetjie wat flikker) vir 1 uur.

Loer af en toe of daar nog genoeg vloeistof in die potjie is. As die pot droog raak, het jy te veel hitte onder hom. Gooi ’n bietjie water by en krap ’n paar kole weg.

Die vleis neem langer as die waterblommetjies om sag te kook – dis waarom die vleis eerste ingaan.

6. Meng die vleis deeglik ná ’n uur, gooi die aartappels by en sit die deksel terug. Laat dit nou nog ’n uur lank prut.

7. Haal die deksel ná nog ’n uur af en pak die waterblommetjies bo-op die spulletjie.

Gooi nou die suurlemoensap bo-oor en maal nog ’n bietjie sout en peper oor alles. Sit die deksel op en laat prut nog ’n halfuur totdat die vleis heeltemal sag is en die waterblommetjies gaar is.

8. Moenie roer nie, want die waterblommetjies is delikaat en sal sommer uitmekaar skeur. Ons maak ’n potjie, nie sop nie!

Die pot moet nooit droogkook nie. As jy enigiets hoor borrel en wil kyk of daar nog genoeg vloeistof onderin die pot is, druk jou lepel liggies aan die kant tussen die kos en die pot in en gebruik hom as ’n hefboom sodat jy kan loer.

Gooi nog ’n bietjie water by, maar net as dit nodig is.

9. Sodra die waterblommetjies gaar is, haal die potjie van die vuur af en laat hom 10 minute rus.

Dien op met rys.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters