2 maande gelede
Biltong-pasteie
perfekte straatkos: Pasteitjies is die oudste vorm van wegneemkos wat uit die antieke tye kom. foto verskaf  ~ 

DIÉ pasteitjies is gevul met ’n eg Suid-Afrikaanse lekkerny.

Bestanddele:

Kors:

500 g koekmeel

10 mF sout

500 g botter

300 mF yswater

Eierwas (’n geklitste eier gemeng met ’n bietjie melk)

Biltong-en-ui-vulsel:

1 rooi-ui, gesny

Botter vir braai

¼ k. bruinsuiker

10 mF balsemiek-asyn

40 g wit cheddarkaas, gerasper

100 g ricottakaas

180 g biltong, fyn gesny

Sout en swartpeper na smaak

Salm-en-ui-vulsel

1 knoffelhuisie, fyn gekap

8 klein preie, fyn gesny

20 mF botter

80 g gerookte salm

150 g crème fraîche

Swartpeper na smaak

Suurlemoensap na smaak

Metode:

1. Sif die meel en sout in ’n groot bak. Breek die botter in stukkies en vryf in die meel. Jy moet die stukkies botter kan sien.

2. Maak ’n holte in die meelmengsel en giet ’n derde van die water by. Meng met jou hande totdat die deeg ferm is. Voeg nog water by indien nodig.

3. Maak die deeg toe met kleefplastiek en laat rus dit vir sowat 20 minute in die yskas. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak, knie liggies en vorm in ’n reghoek.

4. Rol die deeg net in een rigting tot drie keer die grootte uit. Moenie die deeg oorwerk nie. Vou die boonste derde na die middel en dan die onderste helfte na die middel. Draai die deeg een keer na regs, rol uit en herhaal die vouproses.

5. Maak die deeg toe met kleefplastiek en verkoel minstens 20 minute. Rol die deeg 5 mm uit vir pasteie wat oopgesny word en 3 mm vir die ander.

Biltong-en-ui-vulsel:

1. Braai die uie in botter tot sag. Voeg die bruinsuiker en balsemiek-asyn by en braai tot gekarameliseer. Meng die uiemengsel met die kase en biltong. Geur die vulsel na smaak met sout en peper.

2. Sny twee deegsirkels van 3 mm dik uit, die een helfte effe groter as die ander om bo-op te sit. Plaas ’n lepel vol vulsel op elk van die kleiner sirkels.

3. Bedek met ’n groter sirkel, druk die kante regom met ’n vurk vas en prik ’n gaatjie bo-in met die vurk. Verf met eierwas.

4. Bak sowat 20 minute teen 180 °C tot gaar en goudbruin.

Salm-en-ui-vulsel:

1. Braai die knoffel en preie in die botter tot sag.

2. Meng die knoffel, prei, salm en crème fraîche. Voeg die swartpeper en suurlemoensap na smaak by.

3. Sny sirkels van 5 mm dik uit die deeg en prik gaatjies in. Moet nog nie die vulsel insit nie. Verf met eierwas. Bak die pasteitjies omtrent 18 minute tot gaar en goudbruin.

4. Laat effens afkoel, sny oop deur die dikte en vul met die vulsel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters