29 dae gelede
Wilde, woeste westewinde waai wragtag wild
Anton
Anton Le Roux op krukke in die hospitaal.  ~ Foto Verskaf

KYK, min het ek geweet dat my vinnige uitstappie Saterdagmiddag om die Kaapse Dokter eerstehands in die stad se middestad te gaan ervaar my daardie selfde dag tot by 'n regte Kaapse dokter sal bring.

My beter helfte en ek was die een oomblik nog besig om lekker in die strate van Kaapstad in die wilde, woeste winde te baljaar, toe die Suidooster besluit hy kort beslis meer respek van ons twee maaifoedies en my soos 'n vrot lap by die trappe voor die Burgersentrum afwaai.

'n Sekonde later voel ek net hoe my enkel meegee en toe is dit net 'n wêreld se pyn...met die stormsterk wind wat rondom ons waai asof ons in 'n wafferse outdoor-windtonnel is.

Ek was op my rug op die trappe voor die Civic in die stormwind en na wat soos 'n ewigheid gevoel het, sien ek 'n uitgesteekte helpende hand hier voor my gesig.

MyCiTi to the rescue! Die personeellede van 'n nabye MyCiTi-bus het gelukkig gesien hoe ek soos 'n vis uit water daar op die sypaadjie rondflop en krul van die genadelose pyn.

In 'n japtrap het die bustannie my meisie gehelp om my op en tot op die bus te kry … en uit die verskriklike wind, wat op daardie stadium nie meer soveel pret was soos net enkele minute vroeër nie.

Nie te veel later nie het MyCiti my reg voor die Christiaan Barnard-hospitaal naby my werksplek afgelaai. Die belaglike pyn het gedreig om my te oorweldig, maar gelukkig het 'n vriendelike en behulpsame hospitaalpersoneellid ''to the rescue'' gekom met 'n rolstoel.

Voor ek my oë kon uitvee, was ek binne-in die hospitaal, waar die dokter my 'n inspuiting gegee het vir die pyn van die windbesering. Dit terwyl ek in die hospitaalrolstoel gesit het en probeer het om nie uit te pass van die insane pyn nie.

'n Ruk later is ek toe wragtig in daai einste hospitaalrolstoel werk toe gerol.

Nou, dae later kan ek seker oor my windbesering/Suidooster-besering glimlag, maar die boodskap is bra duidelik - moenie onse Kaapse Dokter onderskat nie.

He'll get you in the end...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters