2 maande gelede
Wie’s almal lede van die public wat Protector moet beskerm?
 ~ 

EK BEGIN wonder of ons regtig ’n Public Protector nodig het. Want wat is daardie kantoor se doel dan nou eintlik?

Onse huidige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, fokus deesdae so baie op die eerste burger van die land, ’n mens sou sweer daar is nie meer 56 miljoen Suid-Afrikaners nie. Dis of iemand haak vas by een.

Ek weet ook nie watter public die Public Protector beskerm nie. Sonlanders, ek twyfel of ons deel uitmaak van dié publiek.

Daar is baie eenvoudige dinge waarteen die publiek beskerm moet word, maar die goed word wragtag net misgekyk.

Terwyl ek hierdie tik, sit ek op die trein. Dis eerstens ’n miracle dat hy opgedaag het, toe dat ek kon inklim en dat die ding beweeg.

’n Mens sou dink treine wat brand en vandalisme en kabeldiefstal wat veroorsaak dat ’n diens opgeskort word, sal as ’n krisis gesien word. En dat dit ondersoek sal word om die publiek daarteen te beskerm. Maar niks maak nie.

By Eskom is die ligte af en niemand kan sien wat daar aangaan nie.

Tog het ek nog niks gehoor van die openbare beskermer wat ligte aansit in daardie donker tonnel nie.

Verstaan my mooi – ek sê nie die sake wat wel ondersoek word, is nie belangrik nie. Dis ook nie minder belangrik nie. Die goed het ’n impak op my en jou.

Kom ons wees egter eerlik. Daar is talle ander dinge wat óf nie ondersoek word nie óf net ’n pleister kry.

Waar is die openbare beskermer wanneer veral ons bejaardes soggens 04:00 in die donkerte voor ’n kliniek moet gaan sit wat 07:00 oopmaak? En teen 14:00 is hulle nog nie eens gehelp nie.

So kan daar ook gevra word oor die hospitaal waar jy maklik heelnaweek in die wagkamer kan deurbring. Dis as jy jou nie daar doodbloei nie.

Ek wil nie eens praat van hoe daar by sommige polisiestasies geweier word as jy ’n saak wil maak nie.

Ek sit en dink nou ook aan die munisipaliteit wat nou al hoe lank mense in ’n park huisves. Is daardie mense nie lede van die public wat beskerm moet word nie?

Ek is glad nie surprised dat sommige die bevoegdheid van Mkhwebane bevraagteken nie.

Dit begin ál meer soos net nog ’n politieke kantoor lyk.

Besluit jy maar self of Mkhwebane reg optree en of haar politieke onderrok uithang. En wie geniet nou eintlik haar beskerming?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters