4 maande gelede
Vir siele op wiele lyk Mzansi alhoe meer soos highway to hell
 ~ 

‘HAYIBO, buthi, rêrig? Eish ...” Dis al wat ’n mens kan sê nadat nog ’n lorriedrywer met sy vrag naby ’n Bolandse dorp van die pad afgegly en in ’n staalheining in geploeg het.

Dis nie dat die drywer soos ’n vark bestuur het nie. Die vrag het nie ’n tyre laat bars nie. En hy’t beslis nie agter die stuur geslaap nie. Hiervan is die kamera in die kajuit ’n stille getuie.

Nee, iemand met ’n varkhart het op die brug oor die high­way geskuil, vir die regte oomblik gewag en toe ’n swaar klip deur die lorrie se voorruit gegooi.

Sy aim was dodelik sekuur, want hy het die lorriedrywer in die gesig getref. Die drywer het met sy lewe geboet.

Onder langs die pad het nog ’n klomp etters geskuil en vir die regte oomblik gewag om soos ’n trop hiënas op die lorrievrag toe te sak. Hulle koue oë het geen genade of deernis vir die sterwende lorriedrywer gewys nie – dit was net gerig op die buit.

Die lorriedrywer se rit en lewe is daar langs die highway kortgeknip terwyl sy vrag en persoonlike besittings bloedhande gewissel het.

Waarheen het menslikheid verdwyn as ’n lewe goedkoper is as ’n vrag buit wat later in die township vir minder as ’n appel en ’n ei verkoop is?

Op Moedersdag was daar iewers ’n antie wat vir haar seun se oproep gewag het om haar geluk te wens. Dalk wou hy haar vertel hoe dankbaar hy is dat sy hom geleer het om sy medemens lief te hê en by te staan in nood.

Wanneer daai lorriedrywer ’n hitchhiker op ons land se paaie gesien het, het hy gestop en die persoon opgelaai en hom ’n paar kilometer nader aan sy huis gebring.

Hy het ’n goeie hart geopenbaar soos sy ma hom geleer het. Dalk wou die oorle lorriedrywer betyds by sy vrou en kinders uitkom. Haar vertel hoe lief hy haar het en wat ’n goeie ma sy vir hulle kinders is.

Maar hy sal nooit weer die geleentheid kry nie, want nie almal het ’n omgee-hart nie.

Vir menige lorriedrywer is dit ’n gebedsaak wanneer hulle daai enjin start en die langpad aandurf. Dis nie meer ’n uitgemaakte saak dat hulle ’n veilige rit gaan hê nie. In onse land het dit mode geraak om te steel en te slag.

Omgee woon nie meer hier nie, want ons harte het in klip verander.

Ek wonder hoe slaap die varke wat daai oggend daar langs die highway was om hulle bose doodsplan met militêre presisie uit te voer.

Ek wonder hoe het die buurt se mense langs die doodspad gevoel toe hulle die buit tussen hulle verdeel sonder ’n gedagte aan die doodsroggel van daai lorriedrywer.

Hoe lank gaan dit neem voordat julle gewete gebore word?

Soos Ziggy Marley sing: “Tomorrow people, where is your past. Tomorrow people, how long will you last?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters