3 maande gelede
Vet politicians op gravy train vreet hulle vol aan ons dignity
 ~ 

EK BLOEI weer vandag binnetoe.

Want sien, geen kind behoort skaam te wees om te sê waar hy woon nie.

Maar as die kind ongelukkig moet sê “ons bly in die plakkerskamp” en dan skaam bloos, word die leeu in my wakker gemaak.

Nei, my flip, man, só kan die rade en mense wat derduisende bucks innie maand verdien vir f*kk*l doen nie, aangaan nie.

’n Kaia is ’n ding wat ’n mens waardigheid gee. Maar, nee, vir hulle kom waardigheid op vier wiele – die nuutste Merc, die nuutste Beemer.

En verder sit en vreet hulle so op die gravy train dat ’n dubbelken hul handelsmerk geword het.

Laat staan nog daai boepense wat soos sokkerbolle in ’n rugbysak uitstaan.

Huise is tans mense se grootste behoefte naas werk. ’n Goeie werk.

Maar die aandag word nou afgelei van daardie behoefte aan huise deur die politicians wat eers vir grondonteiening sonder vergoeding wil gaan.

Seker dat die mense maar daarop verder moet plak en die tydbom net groter maak?

Hou maar aan, mr. Politi­cian. Jy is te sleg om huise te bou.

Ek wens jy wil net een aand in hierdie on­genaakbare winter in ’n ma­tjoks kom slaap. Onder ’n lekkende dak. Onder klam en halfnat komberse. Sonder ’n toilet in die huis. Sonder lektriek.

Maar julle smeer mos jul vet h*lle af aan die smeek­gebede vannie people.

Maar next jaar gaan ons julle m**r toe straf. Ons gaan ons sinkplate in jul raadskantore kom neerplak. Ons is mos plakkers. Ons het nie waardigheid nie. Dit het julle mos opgevriet.

Dis die jaar van Nelson Mandela. Die man wat die Hop-huise geskep het. Mooi en edel bedoelings. Gou vergete. Hokkies is die in ding.

Die uur is byna hier dat die mense gaan opstaan. Vir huise. Ordentlike huise. Keer voordat die land oor huise in vlamme opgaan.

Dis tyd dat ons claim wat die Freedom Charter eis: ‘There shall be houses for all.”

Die tydbom se tyd loop uit. Dit gaan neuk.

Moenie sê ek het julle nie gewaarsku nie, raadslede. Hoe op aarde kan ’n land wat miljarde vermors, nie sy inwoners van ordentlike behuising voorsien nie?

Laat daar vir ammil huise wees. Breek af alle hokkies en plakkerskampe. Gee terug kinders se menswaardigheid dat hulle met trots sê waar hulle woon. Kom tot jul sinne. Voordat dit te laat is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters