3 maande gelede
Steek hand uit na ander en vra vrae – só pak jy wanpersepsies
 ~ 

KOM ek skets vir jou die scenario.

In die Paasnaweek daar by Vrou in die Noorde sê sy my skaam daai Vrydag dat die kerrievis nou nog nie heeltemal reg is nie.

Ek is min gespin en sê dis alles fine.

“Ons eet enige iets wat in jou huis is, skat.”

Die volgende dag maak ons paasbolle (hot cross buns) vir die eerste span.

Uiteindelik op Sondag is dit toe die beurt vir hot cross buns en kerrievis.

En ek eet dit maar, maar ek is nie ’n groot viseter nie (nooit daarmee grootgeword nie, never mind kerrievis, want my ma kan nie kook om haar lewe te red nie).

En ook nie veel van ’n voorstander van daai buns nie (daai cinnamon en rosyne, sien).

Vrou vra toe vir my hoekom ek so swaar sluk.

Want dit is mos my tradisie om die goed Paasfees te eet, of hoe?

Ek vra haar toe verbaas waar sy die idee kry dat dit my “tradisie” is om die goed te eet.

En ewe verbaas kyk sy my aan asof ek ’n derde oor gekry het.

“Maar jy’s dan ’n Kapenaar en dis mos wat Kapenaars mos doen?”, verduidelik sy verbouereerd.

“Maar ek’s nie ’n Capie nie!” verduidelik ek, nou net so verbouereerd.

“Ek eet maar die goed saam met jou vandat ek jou leer ken het, want ek het altyd gedink dit is jou tradisie, Vrou!”

En daar kom ons toe al laggend tot die gevolgtrekking ons persepsie van die ander een was oor al die jare, ’n wanpersepsie. Sy maak vis omdat ek ’n Capie is, en ek eet maar gedwee saam omdat dit mos haar tradisie is.

Ons kon lag daaroor, maar persepsies wat gevorm word, en spesifiek, wanpersepsies, kan tot baie gevaarliker, leliker goed lei.

Soos wanindrukke, vooroordele, wantroue, en, ja, even worse, woede, haat en selfs stelsels soos volksmoord (dink Hitler) en apartheid.

Iets kleins kan die beeld van die ander so skeef trek dat misverstande later in oorloë kan verander.

Alle Pretorianers is rock spiders, en stupid (not true).

Alle Capies het sekere ou gewoontetjies soos dat almal hier so tussen die kerrievis ook gangsters is (not true).

Alle binnelanders het geen maniere nie en is boonop sommer ook rassiste (not true).

Persepsies oor die “ander” kan net verander (en miskien verbeter) as jy hand uitsteek en vrae begin vra, ondersoek instel en navorsing doen.

En te min mense in die landjie van ons doen dit genoeg ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters