6 maande gelede
Stadsvaders minag sowaar die tradisie van Tweede Nuwejaar
 klopse
'n Hoogtepunt op die jaarlikse kalender is die Tweedenuwejaarsvieringe deur die klopse-troepe  ~ Peter Abrahams

WAT in die naam van alles wat heilig is gee die City toestemming om te besluit wanneer ek my erfenis mag vier?

Donkiejare gelede is die volk nie toegelaat om die eerste dag van die jaar te vier nie. Ons is gesê: “Julle ko’ tweede, so gaan wees kleurvol op Tweede Nuwejaar.”

Maar nou kom die stad wat werk vir jou en sê: “Ha-a, ga’ wees happy en loop Vierde Nuwejaar.”

Al wat inwoners soek, is basiese dienslewering. Maar eers is honde gesê wanneer om te blaf, toe is daar ’n Day Zero wat weekliks uitgestel is en kort daarna het kragtariewe die hoogte ingeskiet! Vuurwerk is soos treine in die stad gekanselleer en asof dit nie kon erger raak nie, word bergies beboet omdat hulle geen ander heenkome het nie.

My moer was omtrent suur toe ek hoor die Kaapse Maleierkore se Oujaarsaandvieringe is ’n dag vroeër.

Asof January nie lank genoeg is nie, word die klopse se Tweede Nuwejaarsdagviering met twee dae vertraag.

Ek issie ee’s deel van die troepe nie, maar dis die beginsel. Dis ’n kulturele tradisie wat bestaan het nog voor enige van ons.

Ja, oukei, so die laaste paar jaar was daar maar altyd issues wanneer die klopse loop. Dié keer was dit die Stad Kaapstad wat die troepe vertraag.

Die rede vir die verandering op die almanak is dat daar nie genoeg veiligheidshulpbronne was nie.

Al die safety-hulpbronne is by die Waterfront ontplooi vir die fireworks daar en die middestad vir dié se Nuwejaarpaarties.

Ja, safety first... maar die tradisie van die Maleierkore en die Klopse is ouer as die V&A Waterfront en die Stad Kaapstad.

Daai paarties was 20 jaar gelede nie eens ’n gedagte nie. Tog het ons by geboorte al geweet die Kaapse Maleierkore sing Oujaarsaand en die klopse loop Tweede Nuwejaar.

Om dinge erger te maak, sê of doen onse minister van kultuursake, sport, begrafnisse en what-what niks om die sowat 200 jaar oue tradisie beter te beskerm nie.

Ek kan nie onthou dat ek in 2019 gevote het dat my of jou erfenis sommer net so verander kan word nie.

Die kore sing en troepe loop nou al dekades. Wat maak die begin van hierdie dekade anders?

Die cherry op die trifle gaan wees as al die besluit­nemers saam met die “coons” gaan pose asof alles orrait is by die huis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters