5 maande gelede
Skryf daai Nuwejaarsgedagtes neer, brand dit en flush die as
Keith Meyer  ~ Foto Verskaf

SORRY, maar ek likes­ nie van bollie nie ...

Oekie van Nuwejaarsvoornemens nie ... Dit ruik na wurmbollie.

Diegene wat sulke bollie-gedagtes het, skryf dit asseblief op ’n stukkie papier of cardboard box.

Sommer in los skrif, want niemand skryf mos meer in lopende skrif nie. Nie met ’n rekenaar nie.

Vat nou jou Bic lighter en steek daai einste stukkie papier of cardboard box aan die brand.

Nou vat jy die assies wanneer dit afgekoel het, en strooi dit oor die toiletpot.

Spoel nou weg. Herhaal die afspoel action drie keer om seker te maak daar bly niks van jou bollie-voornemens oor nie.

Kyk, niggies en nefies, moetie kom kwaad raak nie. Erken dit: Elke liewe keer ná Nuwejaar try ons mos om dieselfde dramatjie oor en oor op te voer.

Ons maak soema once net van ons ghaaie. Regte ghaaie.

Nie eens klein Blake glo in sy oupa se nwata Nuwejaarsgedagtes nie.

Hy vat liewer sy dummy en suig dit totdat hy met sy “doedoe-koebersie” aan die slaap raak van verveeld wees met Nuwejaarsvoornemens.

Oukei, tjap my nou maar weer ongeskik. Ombeskof.

Maar hierie is mos nou glo ’n nuwe jaar.

By the way, wie’t ons geleer ’n jaar eindig ná ’n sekere getal weke of dae en daarna begin ’n nuwe jaar?

Is dit nie dalk weer net ’n move van die setlaars of die colonialists nie?

Sal ek vir Juju vra of vir BLF?

Ei, my tjommies, ek likes die taal Afrikaans moer toe baie.

Lekker sêgoed weer hier in die fes­tive gehoor ...

So, kom ons “maak los wat vas is en maak vas wat los is”!

Of wat van dié een? “Maak leeg wat vol is ... Maak vol wat leeg is.”

Is dit nie dalk wat ons moet try doen innie nuwe jaar nie?

Dat ons net sal voortgaan om ons mooie landjie nog mooier te maak?

Net om weer soos mense saam te leef?

Die lewe is te kort vir Nuwejaarsvoornemens. Die lewe is te kort om nog dikbek vir mekaar rond te loop.

’n Mens verloor te maklik geliefdes, vriende en kennisse vir wie jy in die nuwe jaar dalk nog sorry wou sê.

Dan is daai persoon skielik weg ... Sy aardse tentpenne reeds uitgetrek.

Dis 2020, ’n jubeljaar – dit eindig met ’n nul. Ons kyk noord en ploeter maar voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters