Verlede maand
Skimmelperd met skim-ruiter galop wyl prez dooie een flog
Albert Bakkes  ~ Foto Verskaf

EN TOE stap ek die een aand verby die TV en hoor dat jy liefs nie rooibostee moet rook nie, want dit kan met jou met immuniteitstelsel lol.

En toe dog ek by myself: Hier kom perde.

Want Antie “Anti-rook” Dlamini-Zuma het mos al lankal haar vinger beterweterig onder ons grootmens­neuse geswaai en gebied ons mag nie twak rook nie.

So, uit desperaatheid rook ons nou maar rooibos.

Ironies genoeg word rooibos al vir eeue gesien as die wonderkuur vir omtrent alles. Moet dit nou net nie rook nie, nè.

Maar terug by die perde.

Ek dink toe die prez die lockdown-perd opgesaal het, het die land hom ondersteun.

Want: “Ek het gesien: Daar was ’n vaal perd. Sy ruiter se naam was die Dood en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.”

Daai kom natuurlik uit die Bybelboek Openbaring – en die pestilensie genaamd Covid-19 hardloop steeds soos ’n wilde, vaal hings oor die aarde met die Dood as sy ruiter.

Ons kan nie die virus wegpraat nie.

Maar daai lockdown-perd raak nou te wild vir die prez en sy mense en ek dink nie hulle weet heeltemal hoe om af te klim nie.

En nou wil hulle die lockdown-resies maar klaarmaak op daai perd. Al vat die resies hoe lank en hoe stadig ook al en al kom almal laaste.

Want, nes ’n steeks donkie wil Cyril en sy span nie bes gee en erken daar is groot foute gemaak nie (soos die verbod op twak en die verspotte verbod op T-shirts koop op vlak 4, dankie).

Maar aan die ander kant: ’n Perd, behalwe dat dit ’n kragtige dier is, het ook die karaktertrek dat jy hom tot by die water kan bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.

So, die kragtige nasie van ons, byt nie meer aan die (somtyds verspotte) regulasies van die lockdown nie.

Terloops, perde kan ook lelik byt, en !@#$%^ hard terugskop as jy hardhandig met hulle is.

Die regulasies lyk – vir my, wat perde ken in elk geval – al hoe meer asof die regering nou die staldeur toegeklap het terwyl die perd lank­al in die veld baljaar.

Dit voel asof die regering al sy geld op die verkeerde perd gesit het.

Liewe prez, please stop flogging a dead horse. That’s just horse sense ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters