17 dae gelede
Rugby-vyandskap tussen jare lange vriende kan swaar raak
 ~ 

DIT heppen net elke vier jaar. En duur dan vir vier jaar.

Ek chise nou vannie rugbymoles, die rugby-vyandskap wat develop tussen jare lange vrinne assit daai jaar Wêreldbekerrugby is.

Die arme Web Ellis weet van sout en water niks.

Sien, dit heppen veral wanneer die All Blacks en die Springbokke teen mekaar speel.

O jinne, die rugbybloed styg so gevaarlik dat mennie ’n rugby-entoesias by ’n beroerte omdraai.

Vat nou maar vir my boeta Wil, die grootste Springbok suid vannie Sahara. En ekke, ’n groot All Black.

Mense, ons stry vir 80 minute. En ammil het ’n boeta Wil, iemand wat ’n kenner van rugby in eie reg is.

Mense, djy stry nie met ’n boeta Wil nie. Hy’s altyd reg.

En soms wonder ons wat nie boeta Wil issie, of hy nie maar die Springkane moes afrig nie.

Ammil se boeta Wil is die ou wat soms ’n vloekwoord of 10 laat val assit moet.

Moenie dat die All Blacks, volgens hom, vuil speel nie. Dan vat hy sommer jou burgerskap af.

“Waar de f*k het djy al gehoor van ’n Nieu-Seelander wat die Springbokke support?

Djulle All Blacks is once onnooslik, man!”

En djy hoor hoe na aan ’n vloekwoord ‘gat’ is.

Dan kry djy ook daai ouens wat sommer vir Fakeboek aan die nek gryp en allerhande vieslike vloekwoorde in dié boek tjap.

Dis gewoonlik die arme skeidsregter wat sy ma se goeters hoor.

Ek het hierdie week selfs die n-woord gelees.

En dan ook arme Rassie. Dit is sommer Rassie issie ’n rassissie.

Anyhow, Saterdag sal ek en my boeta Wil weer die “Sprongbokke” sien bokspronge maak.

Hy sal weer advies gee, asof hulle hom oor die TV kan hoor. En ek sal langsaan sit en die eerste afsetpunt van sy frustrasie wees. Dis kenner teen kenner.

Dit is sommer apartheid se skuld. Of Jan van Riebeeck se skuld. Of Zuma ook, as die drank saampraat.

Want sien, drank verdra nie onregverdigheid nie, veral nie gedurende ’n Springbok game nie.

Hoerit ook al sy, ek bly lief vir my boeta Wil.

Ons sal maar weer vrede maak.

Mag die Springbokke van ammil se boeta Wil wen.

Mag my All Blacks wen, want Sondag moet ek en boeta Wil (en djy en djou eie boeta Wil) weer langs mekaar in die kerkbanke sit en hallelujas sing.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters