5 maande gelede
Politici in vervoer is stadig maar seker op pad na nêrens
trein,bus,metrorail,myciti
Duidelik ry die mense vir wie ons stem nie public transport nie.  ~ 

ENIGE persoon wat minder as ’n uur werk toe travel­, is bleddie lucky en moet asseblief tog daai roete deel. Vervoer in die Kaap en spesifiek public transport in die land is going no­where slowly!

Vir amper ’n jaar al is daar geen MyCiti-diens op die N2-busroete nie en om sake te vererger gaan dinge op die treinspoor nie beter nie. Die berugte sentrale lyn is meer van ’n uithangplek as wat daar treine beweeg.

Die N2 MyCiti-busdiens, wat die middestad met Khayelitsha en Mitchells Plain verbind, is gestaak oor die Stad Kaapstad nie ’n ooreenkoms met diensverskaffers kan verleng nie.

MyCiti was nog altyd nie net die Stad Kaapstad nie, maar die DA se voorbeeld van ’n goeie stelsel van openbare vervoer. Tog kon die DA-beheerde plaaslike en provinsiale regering, selfs voordat die diens in Mei 2019 gestaak is, nie ’n oplossing kry nie.

Dis nou die einste twee regeringsfere wat soos ’n stout kind op ’n winkelvloer lê en tjank om treintjie-treintjie in die Wes-Kaap te speel.

As jy nie eens busse op een roete kan laat ry nie, hoe beplan jy om treine deur sewe munisipaliteite in die Wes-Kaap te laat ry? Die afgelope week moes die nasionale minister van vervoer, Fikile Mbalula, ingryp om die bus-gemors skoon te maak.

Die einste minister wat self ’n so groot pot stront met Prasa geërf het dat hy nie weet waar om te vat en wat om te los nie. Wat ’n mens moerig maak, is dis duidelik die einste mense wat oor ’n paar maande weer gaan kom stemme bedel nou nie eens openbare vervoer kan laat beweeg nie.

Dan beplan die Wes-Kaapse vervoerkomitee nogal ’n oversight visit na die Mitchells Plain-treinstasie.

Duidelik ry die mense vir wie ons stem nie public transport nie, want daar is al maande nie treine op daai lyn nie.

Ek wonder of hulle nou na die stasie gaan om te kyk hoe ’n leë stasie lyk, net weer om leë beloftes te maak? As pendelaar raak ek ook moerig dat politici vinnig ’n verklaring kan uitstuur as daar ’n f*kk*p is, maar hulle gebruik nie elke dag public transport nie. Ons kies mense om in karre na board­rooms te ry en te sit en gesels. En as hulle laat kom, word daar ook nie geld afgetrek nie.

Dít terwyl ek en jy elke dag ons lewe waag – duisende hustle oggend en aand tussen ’n bus, taxi en trein. Alles net om op ’n regverdige way ’n paar sente te maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters