6 maande gelede
Ons vier te lekker Vryheidsdag in Mzansi Supermax
 ~ 

MÔRE vier die hele Mzansi weer Freedom Day. Politici soek dan weer punte met hul speeches.

Oorle boeta Apartheid word weer uit sy dood ontwaak en van voor af sleggesê. Vorige regimes word weer afgekraak.

Die stadiums is vol en die skare juig. Want ons is VRY!

Askies ...? Vry van wat!?

Hoekom kan ons kinders nie meer sorgeloos in die pad speel nie? Hoekom is ons strate dan nie meer veilig nie?

Hoekom hou gewetenlose misdadigers ons gemeenskappe in ’n greep van geweld gevange?

Hoekom moet ek burglar bars voor my vensters hê en ’n hoë tronkmuur om my property bou?

Vry!? Ons is nog gevangenes van wetteloosheid. Ons is gevangenes van hemelhoë inflasie, prysstygings, korrupsie en armoede.

Ons inwoners is nie vry van uitbuiting deur munisipale systems wat op ons afdwing word nie. Duurder basiese dienste en “blou watermeters” word op ons afgedwing waarvoor ons ten duurste moet betaal. Hoekom? Daai watermeter is dan muni­sipale eiendom!

Hoekom betaal vir iets wat aan iemand anders behoort? Of kan ek as inwoner daardie meter saamvat as ek die dag trek? Vra maar net.

Maar ons vier Freedom Day terwyl dié soort uitbuiting net aanhou gebeur.

Koerante se voorblaaie is vol moord en doodslag. ’n Gewetenlose killer wat sy slagoffer oor ’n entjie vermoor het, word onder huisarres geplaas. Hoe voel die slagoffer se familie? Kan ons sê hul gemoed is vry?

Bly hul gees nie gevange gehou deur die feit dat daar nie justice vir hulle is nie?

Kyk hoe sukkel misdaadslagoffers om berading te kry. Hulle bly vasgevang in die aaklige gebeure van daardie misdaad. Kan hulle vry wees?

Gaan Freedom Day dan net daaroor dat ons vry van die verlede is? Maar in die hede word ons vasgevang in die greep van armoede, korrupsie en misdaad ...

Vryheidsdag is vir baie net ’n lekker vakansiedag. Hulle slaap laat, die kinders bly uit die skool en dis al.

As ék vryheid moet voorstel, sien ek voor my geestesoog my pragtige houthuisie ver in die sneeubedekte berge langs ’n kabbelende stroompie met bokkies wat sorgeloos daar wei.

Ek word wakker met die getjirp van voëltjies in my ore. Vars, uitgerus, sonder worries oor misdaad, uitbuiting, korrupsie, hoë rekeninge en inflasie.

Dís wat ek vryheid noem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters