20 dae gelede
Ons mense moet leer om met ’n kophou armoede aan te pak
Keith Meyer  ~ Foto Verskaf

ARMOEDE is ’n kriminele oortreding. Altans, dit behoort een te wees waarvoor die regering van die dag by die United Nations aangekla kan word.

En soos die reggae-sanger sing: “Rich man, share your riches with the poor before the poor share their poverty with you.”

My mense verarm by die dag en vele faktore is hiervoor aanspreeklik.

Dit maak ’n mens dik die dinges in om te sien hoe die armes verder ingeloop word.

Soos nou die dag toe ek in ’n blikwinkel of container of wat dit ook al genoem word in jou township, moes ingryp.

’n Pensioenaris, wat swaksiende is, is gerob met verkeerde change. Te min kleingeld.

As jy kon boekhou hoe die armes of weerloses oop en bloot ingeloop word, sal dit jou beneuk maak.

Soos daai dag toe die mammie ’n container – en hulle is so volop in ons townships (goeies uitgesluit) se baas met ’n koeldrankbottel gegooi het.

Oorlat hy haar laitie verkeerde change gegee het.

Hy durf waag dit toe om die antie te vertel dat haar kind die geld gevat het.

Dit het ook tyd geword dat teachers­ leerders weer leer van optel- en aftreksomme.

Van hoofrekene – om somme in die kop te maak. Want met elke 50c waarmee ons laities ingeloop word, verarm ons mense. Oorlat hulle nie somme in hul kop kan maak nie.

Dit is waar “armoede-education” kan inskop. Ook vir volwassenes.

Byvoorbeeld, wanneer inkopies gedoen word, moet hulle geleer word dat dit nie die prys van die goedkoper pakkie wors is wat tel nie.

Maar dat dit die prys per kilogram is wat sente in ons sakke terugsit.

Dat die specials- blaaie van winkels bestudeer moet word.

Dat “twee vir die prys van een” nie altyd die goedkoopste is nie.

Dat groter soms goedkoper is as klein of kleiner.

Armoede-education is ’n “vak” – wiskunde, rekeningkunde, verbruikerstudie en EBW in een – waarmee opvoeders hul leerders kan empower. En daai educated laities hoef nie te wag tot wanneer hulle adults is nie.

Hulle kan sommer dadelik die mense by die huis weer leer wat hulle in skole geleer het. Klink dalk simpel.

Enniehouw, dis die reality waarmee ons gekonfronteer word. Ons kan nie ’n dag oorslaan wanneer dit kom by armoede fight nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters