Verlede maand
Ons behoort baie meer oor die jong leiers in ons land te praat
sa vlag, jeug
Watter veranderinge is daar regtig hierdie Jeugmaand aangebring?  ~ Verskaf

JEUGMAAND het gekom en amper weer gegaan.

Jaarliks vra ek myself watter betekenisvolle veranderinge is dié maand in die lewe van die meerderheid van ons bevolking – die jeug – gemaak?

’n Volle maand word gepreek van jeugontwikkeling en die jeug wat die toekoms is. Dis net jeug dit en jeug dat. Maar wie is die jeug en waar is hulle al die ander dae?

Ken ons ook net vir Hector Pieterson op Jeugdag?

Hoeveel jong mense ken vir en weet watter rol is gespeel deur Paul Langa, Jefferson Lengene, Daniel Sechaba Montsitsi, Sibongile Mthembu Mkhabela, Khotso Seatlholo en Tsietsi Mashinini?

Ek hoor ook dikwels hoe jong mense vra hoekom daar net van die verlede gepraat word.

Wel, dis darem nie alles vergeefs nie! Nes in die donker jare van ons land is daar vandag in ons demokrasie ook jong leiers.

Daar word net baie min oor hulle gepraat. Hoeveel weet dat die jongste minister in ons land net 35 is? Boonop is Ronald Lamola die minister van justisie en korrektiewe dienste.

Ná ons sesde demokratiese algemene verkiesing het die aantal LP’s jonger as 35 ook vermeerder.

Hoeveel het egter al gehoor of weet van Nomasonto Motaung­, Ashor Sarupen, Thobile Mkhatshwa, Cilliers Brink, Thamsanqa Mabhena, Baxolile Nodada of Nazley Sharif?

Waag ek om te vra wie het geweet daar is LP’s in hulle 20’s, soos Collen Malatji (26), Naledi Chirwa (25), Sibongiseni Ngcobo (24) en Itumeleng Ntsube (21)?

Jare lank was die parlement se banke die sitplek van ouer, “meer ervare” agbare lede. Nou loop daar selfs born frees in die gange.

Elke agbare het wel ’n plig teenoor alle Suid-Afrikaners, maar ’n groter verantwoordelik rus op die skouers van ons jonger LP’s.

Nie net is die grootste deel van die bevolking jong mense nie, die land het ’n groot jeugwerkloosheidsyfer. Daar is ook ’n horde uitdagings weens talle ander maatskaplike euwels.

Die verwagting is dat, nes in die 1970’s, die jonger parlementslede hulle stem verhef, leiding neem en seker maak die jeug word gehoor.

Ons behoort hartseer en moerig te wees dat daar nie oor hulle gepraat word nie.

Ons moet ontsteld wees dat hulle stemme nie genoeg gehoor word oor die talle uitdagings wat jong mense face nie.

Nou vra ek weer: Watter veranderinge is daar regtig hierdie Jeugmaand aangebring?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters