8 maande gelede
Nee, Prasa, jy is nie die victim
metrorail,train,commuters
A Metrorail train comes to a standstill before reaching Cape Town station. (Image: Adiel Ismail)  ~ 

‘Prasa lieg net en moet ophou die victim speel.”

Dit is die twee goed wat vassit in my kop ná ’n onlangse vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer.

Op die agenda was die Passenger Rail Agency of South Africa (Prasa), wat parlementslede toegespreek het oor uitdagings wat pendelaars daaglikse face en veiligheidsaspekte.

Halfpad deur die meeting staan die voorsitter op, draai haar rug na die meeting waar ek toe sit en sak af: “Prasa lieg net”.

Toe loop die LP Dikeledi Magadzi uit, want nie sy of enige van haar kollegas se vrae word beantwoord nie.

By haar terugkeer sê Magadzi kort voor die einde van die vergadering: “Prasa luister net nie. Hulle kry 48 uur om ’n verslag te doen en kom ná 14 dae met dieselfde planne wat niks sê nie.”

Prasa het wel mooi groot woorde gehad. Dit het egter nie die parlementslede beïndruk nie.

Ek weet nie of ek geskok of teleurgesteld is in Prasa se voorlegging nie.

Daar word oorweeg om mini- operasionele sentrums by stasies te hê om kommunikasie met pendelaars te verbeter. Van die ander planne is om SMS’e na pendelaars te stuur en sosiale media meer effektief te gebruik.

As pendelaar was dit traumaties om na die voorlegging te luister. Ek weet nie met watter vertraagde trein die voorlegging gekom het nie, maar Prasa weet duidelik nie wat aangaan nie.

Ek is al van my varsity-dae af ’n pendelaar en toe al het ons SMS’e gekry. Aankondigings by stasies het seker saam met die stasies gekom. En sosiale media, wel, dit word nou al amper vyf jaar gebruik. Terloops, ek is die eerste een wat die hashtag #TrainReport getwiet het in 2013.

Prasa het wel erken dat mense ly, laat kom en warnings kry by die werk en dit oor Metrorail nie die diens lewer wat duisende pendelaars verdien nie.

As jy dit weet, wat doen jy om dit te verander?

Een van die grootkoppe het daar genoem van dié wet en daardie beleid. Hy het my verloor, want ek was gereed om te hoor dit en dat gaan gedoen word. Gelukkig het een van die LP’s tot my redding gekom toe hy die Prasa-bestuurder stop en sê: “Ons is nie hier vir ’n workshop nie, gaan gee dit vir Prasa se werkers. Ons soek antwoorde en planne om ’n veilige en betroubare treinrit vir pendelaars te bied”.

Prasa behoort hom eintlik te skaam vir sy voorleggings waarin hy die victim speel. Met werkloosheid in die Wes-Kaap op 19,5% moet mense aan hul job klou. Maar Metrorail saboteer talle se werksekerheid. Werkgewers sluk nie meer die verskoning dat treine laat is nie. In Januarie het Prasa die skuld gepak op ’n toename in misdaad, gebrekkige belegging in passasierspoorvervoer en die koste van modernisasie.

Twee Prasa-direksielede het toe erken dinge lyk onmoontlik en daar is geen alternatiewe planne om pendelaars te help nie. Die ergste is seker dat Prasa-beamptes nie eens met ’n “ons is jammer vir die ongerief”-uitdrukking sit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters