4 maande gelede
Mis-Chiefs moet gekeer word
Foto:  ~ 

WAT laat sokker fans se kop so uithaak dat hulle selfs tot moord in staat is wanneer hul geliefde span nie die mas opkom nie?

Met soveel geweld en oproer van fans langs Mzansi se sokkervelde is dit duidelik daar is nog nie medisyne vir dié siek donners nie!

Skokbeelde van Kaizer Chiefs se ondersteuners op ’n ram­page in die Moses Mabhida-stadion het my meer vreesbevange as die moer in gelaat!

Eers het die geel jerseys se fanatiese supporters na hul kop gegryp en dit tussen hul bene probeer inwurg toe hul span in die stryd teen Free State Stars lelik uit die bus begin val.

Toe gryp die bliksems sommer enigiets waarop hulle hul hande kon lê en begin beamptes, die paar sekerheidswagte en alles wat roer te moer.

Wie is aanspreeklik vir die gedrag van die hooligans wat hulself fans noem? Hulle is ’n fan se gat, man!

Coach Steve Komphela kan tog nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat langs die veld gebeur nie!

Komphela is in elk geval history, want hy het kort ná die gemors die tuig neergelê.

Ook maar goed so, want soos daai klomp oorgeborrel het, sou ek sweer hulle sou Kom­phela hospitaal of lykshuis toe gebliksem het as hulle hom weer raakloop.

My worry is, wie moet in check gehou word by sokkerwedstryde wat altyd groot skares lok? Die fans? Die coaches? Die ringkoppe van die PSL? By the way, het ons nie al dieselfde horror movie oor en oor gesien op ons speelvelde nie? En aan daai sokkerboewe: Wat de hel het SuperSport se TV-kameras en mikrofone te doen met die uitslag van die wedstryd?

Soos daai skollies met die uitsaaitoerusting rumoer het, sou ’n mens sweer daar sou ’n genie uitkom en al die Amakhosi se sokker­drome waar maak! Moet ons dan nie humble in defeat wees nie? Dis nie asof Chiefs se fans nog nooit humble pie geëet het nie!

Het dit regtig so onveilig geword vir ’n Saterdag-uitstappie na ons land se sokkerstadions? Iemand, sê asseblief hoe ons land se sokkerbase sulke barbaarse gedrag van fans kan hokslaan.

’n Nuuskonferensie is mos maar eintlik ’n please-let-us-explain-byeenkoms, want die skade is klaar gedoen.

So, Mr. Irvin Khoza en kie, put your money where your mouth is. Sokker in Mzansi trek die meeste ondersteuners en borge is glad nie snoep om tjieng te flash nie. Wie gaan die grootste verloorder wees as borge gatvol word vir fans se hooliganism en hul beursies styf toe zip?

Want sien, die blikskottels het sommer advertensieborde as wapens van vernietiging gebruik toe hulle met hul neukery begin.

’n Vraag aan die ringkoppe van die PSL en stadionbestuur is: Waar is jul gebeurlikheidsplan? Hoekom is dit so maklik vir fans om op ’n rampage te gaan en selfs tot op die veld te vorder om hul varkgedrag uit te stal?

Asseblief, PSL, oorweeg die getroue ondersteuners se veiligheid net so goed soos julle na jul geldkoffers kyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters