21 dae gelede
Miché Zephany leer ons nie alle stories het happy endings nie
zephany
Miche Zephany maak haar hart oop in die boek.  ~ 

HET jy al ooit ná byna 20 jaar eendag opgestaan en jou mammie is nie meer jou mammie nie?

Nee, ek het nie en ek ken ook nie iemand met wie dit gebeur het nie. Of nee, wag, daar is wel iemand van wie ons almal nou al weet met wie dit gebeur het.

Miché Solomon het ná 17 jaar gehoor sy is nie wie sy haar hele lewe lank nog dink sy is nie.

Tieners van daardie ouderdom moet worry of daar ’n matriekafskeid gaan wees, oor die rok en kar en ’n eindeksamen.

Miché se nagmerrie was egter dat sy Zephany Nurse is, wat dae ná haar geboorte uit ’n hospitaal ontvoer is.

Die wêreld het gejubel en juig en was happy saam met Celeste, Morné en die res van hulle familie. Maar die storie het nie die einde waarop almal gehoop het nie.

Ek moet bieg, die boek oor Miché Zephany Solomon het my ’n bietjie gerattle. Laat ek net noem, die boek is ’n moet. Ons moes haar storie hoor en lees wat sy voel.

Drie dinge maak my ’n bietjie krapperig.

Eerstens was die tienermeisie in ’n belangrike fase van haar lewe. Sy het egter nie die ma gehad, wat sy geken en vertrou het, vir daardie moederliefde nie.

Talle kritiseer haar oor sy as tiener ’n kind gekry het en dat dit nie sou gebeur as die steelma haar nie gevat het nie. Tog is sy met liefde grootgemaak.

Die gebeure het ’n groot liefde van haar weggeruk en sy het na liefde gesoek,’n plek waar sy haarself kan wees.

Die tweede ding is dat Miché Zephany se emosies misbruik is. Sy was emosioneel en mense het dit uitgebuit en doen dit steeds. Almal wil vir haar besluit en laat haar nie toe om haarself te wees nie.

Laastens het die hele gedoente my geleer ons is so gebreinspoel met al die sprokiesverhale, ons glo net aan ’n happy end­ing. Dat die prins die prinses soen, Aspoestertjie haar glasskoen kry, Sneeuwitjie gered gaan word. Maar terwyl dit dalk ’n never-ending story is, is ons nie Alice in Wonderland nie.

Ons almal wou ’n happy ending hê, waar die ontvoerde baba met haar biologiese ouers herenig word. Die fairy tales sê dit moet gebeur. Ja, bloed is dalk dikker as water, maar die realiteit is dat ’n paar weke met haar biologiese ouers nie ’n towerstaf is wat 17 jaar se grootmaak met liefde laat verdwyn nie.

Almal het genoem hulle ondersteun haar, maar die kind moes deal met ’n heel ander identiteitskrisis as dié van haar maats.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters