7 maande gelede
Metrorail lyk na die peetouer van ekonomiese sabotasie
treine, treinspore, metrorail, kabels
Earl September skryf dat dit 'n raaisel is hoekom treinbrande nie voorkom kan word nie.  ~ Foto ter Illustrasie: Jaco Marais

DIT het my ’n baie lang tyd gevat, maar ek beweeg in die rigting waar ek oortuig is die enigste “defective signal” is Metrorail self.

Wat nie ’n lang tyd vat nie, is om op te let die meeste treinbrande vind tussen September en November plaas, net voor die veldbrand-seisoen. April is ook ’n warm maand vir die spooroperateur.

Iemand moet tog explain waarom die belastingbetaler sekere individue betaal.

Met elke treinbrand word die sabotasie veroordeel, maar ’n plan om die volgende een te verhoed, is net so ’n raaisel soos of daar nog ’n trein kom.

Intussen soek almal na die skuldiges en skuif die aandag weg van die bestuur. Die voorsitter van die Stad Kaapstad se vervoerkomitee, Angus­ McKenzie, het dié week gesê dis tyd dat die streekbestuurder moet walk.

Alles goed en wel, maar vir ’n gebreekte arm of blindederm wat pla, draai jy nie ’n verband om die kop nie.

Kom ons speel devil’s advocate en sê hierdie is deel van ’n strategie om van die bestuurder ontslae te raak. Die eerste treinbrand was nege maande ná sy aanstelling.

Richard Walker se legacy is dus letterlik om vure dood te slaan. In April vanjaar is die sekuriteitshoof, wat ’n verdagte vir die voorval gearresteer het, ná ’n treinbrand geskors.

Sedertdien was daar 5 ander treinbrande waar 29 waens verwoes is. Dis 19 meer as in April. Sommige meen die taxi-bedryf skuil dalk agter die inferno. Met die treinchaos kan die taxi’s hulle baie vinnig organise en die taxi fare skiet ook skielik die hoogte in.

Asof ’n treinpendelaar se bloeddruk nie klaar hoog genoeg is nie ...

Hulle het dus meer pendelaars, maar ook meer stoppe en korter roetes. Met die meer taxi’s is daar ook meer wetstoepassingsbeamptes wat die taxi’s om elke hoek en draai aftrek.

Om uit te vind wie die brand begin, sit op ’n vertraagde trein. Nes daar geen duidelike aankondigings op stasies is nie, word niks ook gesê oor misdaadintelligensie se betrokkenheid om die ontsporing van Prasa te keer nie.

Treinbrande is nou “ekonomiese sabotasie” gedoop, maar is Prasa en Metrorail nie die peetouers nie?

Ná vyf jaar van hel is al wat jy hoor “we apologise for the inconvenience”.

Tog is daar ’n plan. Nogal twéé. Maar om die een of ander rede kan of wil niemand net sê waarom dit nie in werking gestel word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters