4 maande gelede
Mag sekeres se liefde vir seep en tandepasta ook begin blom
Salmon Smith  ~ Foto Verskaf

KYKIE, dis mos vi’dag die dag van liefde. Dis net rooi rose, kerse, romantiese dite – you name it. Love is in the air!

Maar die uwe gaatie vi’dag praat oor die liefde waaroor ammal so praat dié tyd vannie jaar nie.

Nei, ekke gaat nou praat van ’n anderse soort liefde – die liefde daarvoor om nie te was of tande te borsel nie ...

Soort van, daai ouens wat ’n liefde het vir daai “ou de toilet” of “ou de aloe” perfume. Jy hoef hulle nie te sien nie, jy ruik hulle net.

Dié ekke besluit mos Dinsdag om gou ’n taxi te vat Kaap toe. Want vir Metrofail se mankolieke diens is ek nou al gatvol. Die alewige “We apologise for any inconvenience caused”-deuntjie irriteer my tot in my blindederm. Dan lyk die suur bliksems by Kaapstasie se turnstiles boonop nie eens sorry nie.

En innie peak wil ek oekie sittie, want die duiwel het spitsverkeer special aarde toe gestuur om ons te laat vloek. En ekke willie weer vloekie.

Maar nou ja, vannie os oppie jas … toe vat ekke mos dáái spesifieke taxi. Nou kry ekke ’n sitplek langs die skuifdeuroperateur – a.k.a. taxi guard en digby die geroeste moer wat die stuurwiel vashou – a.k.a taxi driver.

Wragtig en dis hiér waar dinge vir my sensitiewe reuksintuie skeefloop. Julle wiet dis mos somer en ek loop my mos vas in ’n mengsel van aalwyn- en rioolreuke.

Ek snuif toe vinnig met my snawel innie lug rond om die oorsprong van die reuke op te spoor.

En dis toe net hiér waar die skuifdeuroperateur sy arms beweeg om die deur toe te maak dat ek die oorsprong van die aalwynreuk optel. Daai boeta swaai daai blaaie hier onder my neusvleuels rond dat geen mens dit kan hou nie.

Maar boeta is min gespin. “Maitlaaand! Kaaaap!” skreeu hy uit volle bors. Ek wou byna daai Lux-advertensie se deuntjie neurie, maar besluit om maar eerder my gesig van daai aalwynboer af weg te draai. Tot my spyt, want toe praat die geroeste moer hier van voor af.

Behalwe vir die woorde wat uit daai vrottanne-bek ko’, ko’ daar ook akkiesreuke uit.

Onwillekeurig speel daai Colgate-advertensie voor my geestsesoog af. Gou besef ek dat ek vaar vandag tussen Scylla en Charybdis – die twee gevare. En die trip Kaap toe was baie laaaank.

Op die stasiedek strompel ekke halfduiselig uitie taxi.

“Tenks, Pa, maak wee van o’s service gebruik!” sak aalwynboer toe vermetel af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters