3 maande gelede
Los die diskriminasie teen vroue en hou jul vuil pote tuis, lafaards
Die lewensgrootte standbeelde van Rahima Moosa, Helen Joseph, Lillian NGoyi en Sophie Williams-De Bruyn by die lewende erfenismonument vir vroue op die Lillian Ngoyi-plein in Pretoria.  ~ 

GEEN vrou is die punching bag van enige man nie.

Anders gestel – geen man wat sy vuil pote teen vroue lig, is ’n man nie.

Nie eens daai bleddie adjunk-minister, Man-ana, wat daai vrou in ’n nagklub sy slaansak gemaak het, is ’n man nie.

Flippen hel, man, waarom dan vroue se lywe change­ na crime scenes­?

Het jy al gehoor hoe huil ’n kind as Pa vir Ma aanrand? Daai stemmetjie sal jou haunt totdat Lucifer jou tot kaiings verskroei.

Jy’s mos trots as die bloed loop, as die potblou oë met make-up weggesteek moet word. Gemors.

Dis net lafaards wat vroue se lywe soos predators jag om dit net later te verniel met skoppe, klappe en trappe.

My ouma het gesê ’n man wat sy pote vir ’n vrou lig, is laer as slangk@k.

Vroue het hierdie land vry ge-march. Gaan vra die bruin-grys Uniegebou.

O ja, wat het van die minister van vrouesake geword, comrade RamKatPhosa?

Die goewerment drop vroue liederlik.

Daarom word jong kinders deur vies­like oompies verkrag.

Nog nie eens die kans gehad om die lewe van ’n meisietjie met pienk poppies­ en speelgoed-teekoppies te geniet nie. Wetters.

Die wetters wat nie “nee” van ’n vrou vat nie en hulle dan verkrag, se knaters moet met ’n verroeste hakiesdraad gekastreer en vir die honger honde gevoer word. Of nee, nie eens ’n hond sal daai ding vreet nie.

Die vrou is uit die man gemaak, uit sy rib om sy metgesel te wees. Nie uit sy voet om ’n vloerlap te word nie.

Vroue oorkom verskynsels met ’n manlike voorvoegsel – men-opouse, men-struasie – met grasie.

Vroue bring mans in die wêreld. glad nie die sogenaamde “weaker sex” nie.

Los die diskriminasie teen vroue net oorlat hulle volgens tradisie nie die “hoof van die huis” is nie.

Die abuse van vroue se lywe net om laaities te maak, maak nie van jou ’n man of ’n pa nie.

Want sien, dan hol julle mos weg om te gaan seep of airtime koop.

En daai bloedjie wat nie gevra het om hier te wees nie, moet sonder ’n pa grootword.

Ook maar goed so, want wie wil ’n lafaard as ’n pa hê?

En dink jy sy’s nou ’n enkelouer? Nei, man, sy’s ’n dubbelouer, sterker as ooit!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters