18 dae gelede
Liewe Cyril en jou amen-koor, dié storie raak nou verby goor
Jan Swarts  ~ Foto Verskaf

LIEWE fellow South Africans, ek skryf namens Mentha, wat ’n lewe try maak onder Mzansi se blou hemelruim.

Mentha is ’n enkelouer wat squat in ’n wendyhuis in haar ma se jaart. Haar lewe lank hou sy deur skarreljoppies hart en siel bymekaar. Sy het nog nooit in die kollig beweeg nie, net onder die radar. Maar nou het ook háár movement tot stilstand gekom.

Mentha wil nie sterf aan die corona-virus wat nes ’n Egiptiese plaag deur ons land trek nie.

Sy’t ook hard hande geklap toe oom Cyril daai aand soos ’n Salomo van SA die lockdown afkondig.

Mentha wou graag haar beskeie bydrae lewer “to flatten the curve”. Nou sit sy heeldag byrie huis in ’n jaart waar drie gesinne bly.

Sy sukkel om nie ’n voet buite die jaart te sit nie. Sy vrees nie meer oom Cyril se lockdown-regulasies nie; sy is tog versigtig vir antie Rona.

Ek is ook gatvol vir die lockdown, wat aanhou soos ’n storielyn uit die Turkse telenovela Bittersoet. Ek’s moerig oor ek van my be­weging beroof is vir redes so donker soos die negende plaag oor Egipte.

Social distancing in ’n grendelstaat? Hoekom herinner dit my aan erge straf in ’n mili­têre staat? Is dit dan nie net ’n skurk en tweegevreet-jakkals wat agter ’n masker skuil nie?

Dit voel of ek dubbeld gestraf word omdat ek die wêreld nou van agter ’n wasembril moet beloer.

Nee, ek wil nie aan Covid-19 sterf nie, maar ek sweer as die lockdown nie tot op ’n leefbare level verslap word nie, sal ons ook nie survive nie.

Ek nooi oom Cyril om sonder ’n masker op die oë in my buurt te stap sodat hy die mense se hangskouers en skewe mondlyne kan sien.

Hy moet sien hoe hulle soos gemaskerde zombies met bakkies in die hand rondskarrel na ’n sopkombuis. Hy sal hom vergaap aan spelende kinders wat nie gepla is met antie Rona nie. Ek sal hom gaan wys waar die hand op die sinkplate by die rugbyveld geskryf het: “Ons sal nie in die huis bly nie. Ons is honger.”

Nou vra ek oom Cyril se amen-koor met ’n stem waaruit die donder blits: “Waar is die trok geparkeer wat die kospakkies by die weerloses moet aflewer? Hoe lank gaan mense se longe hou voordat dit inplof en hulle hul laaste asem weens die rook van fake sigarette uitblaas? Is hul immuniteit teen tuisgemaakte brousels sterker as teen ‘Wuhan se virus’?”

En die storie van Nkosazana Dlamini-Zuma oor wettige verbode rookgoed … Spin sy nie dalk ’n zolstorie nie? In die meantime koop rokers ready-made twakzolle wat hulle gewillig met ander gebruikers deel! Hallo! Is daar rêrig iemand byrie huis?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters