4 maande gelede
Kapenaar tuis tussen tulpe
vannie cape flats: ’n Nuwe begin het Abigail Temmink nie van haar roots laat vergeet nie.  ~ 

AMSTERDAM. – Al bevind jy jou waar in die wêreld, voel jy tuis as jy in ’n ander Kapenaar vasloop.

Dié lekkerte van tuis voel het dié verslaggewer vandeesweek beleef met die ontmoeting van Abigail Stewart met die nuwe getroude van, Temmink.

Sy is ’n oorspronklike boorling van Manenberg wat Europa as nuwe tuiste aangedurf het vir liefde.

Afrikaans

Aanvanklik het die mooi 27-jarige vroutjie stil voorgekom, maar vinnig het haar borrelende persoonlikheid uitgekom.

Dit kan wees omdat die Nederlandse taal haar mond oorgevat het. Elke keer as sy nog dink sy praat Afrikaans, sukkel sy.

Die meeste van die geselskap het toe begin vloei in Engels, maar tog het Afrikaans op die einde gewen.

Die eerste vraag is hoe dit dan gekom het dat Temmink van die Kaapse Vlakte haar nou in die land van tulpe, windmeule en kaas bevind.

“Liefde,” beskryf sy dit kortliks.

Sy het haar “this-is-it” in ’n Nederlandse man in die Kaap gevind toe hulle beide by die Townhouse Hotel in die CBD gewerk het.

In 2016 het sy die groot besluit geneem om Suid-Afrika vir Europa te verruil.

Sy en haar liefde het ’n tydjie eers in Duitsland gewoon en getrou, en toe in 2018 Holland toe getrek.

Sedert sy in Europa geland het, het sy talle los werkies gedoen soos om ’n oppasser van twee bejaardes te wees, in ’n supermark en ook as ’n huishoudster by ’n hotel gewerk.

Temmink vertel: “Ek het laas jaar gedink ek wil nog steeds ’n loopbaan bou en iets van my lewe maak.”

Sy het ingeskryf vir ’n vierjaar-kursus in media-inligting en kommunikasie, wat sy in Nederlands by die Saxion-Universiteit in Enschede, Nederland, doen.

Oor haar studiekeuse sê sy: “Ek stel baie belang in die media en ook in bemarking.” Sy het klaar haar oog op ’n paar Nederlandse besighede waar sy moontlik ná haar studie kan begin werk.

Temmink erken dat sy die veiligheid, georganiseerde lewe, museums en sosiale lewe in Europa geniet.

Maar daar is goed van haar eie land wat sy mis.

“Ek mis die rootie, kerrie, samp en beans, my familie en die sonskynweer.”

Sy beskryf haar liefde vir haar familie en Manenberg met soveel passie.

“Dit kan baie donker wees, maar terselfdertyd ook vreugdevol.”

Sy het ’n groot droom vir Manenberg.

“Ek hoop dat Manenberg, my geboorteplek, floreer sodat die jeug hulle toekoms kan vasvat en die sirkel van armoede in ons gemeenskappe kan breek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters