6 maande gelede
Jaar van die Groot K
GROOK KAK: Dié tyd van die jaar versprei !@#$%^ gedrag op ons paaie, wel, so vinnig en aggressief soos kanker.  ~ Foto: nigeriansinsouthafrica.co.za

DIÉ tyd van die jaar doen ek altyd so ’n bietjie van ’n lykskouing. ’n Nabetragting van 2019, dus.

En laat ek jou vertel, dié jaar was sekerlik die grootste !@#$%^ in ’n baie lang, lang tyd.

Die Jaar van die Groot K, om presies te wees.

Kom ek verduidelik.

Aan die begin van 2019 kry die dokter groeisels in ’n sekere deel van Vrou se lyf.

Dit moet uit, want dit kan Kwaadaardig draai. So, sy gaan onder die mes.

En ek kon nie daar wees vir haar nie ...

Toe, in die middel van die jaar, moet my liewe ma (84) vir ’n routine checkup gaan nadat sy self die Groot K ’n paar jaar oorleef en oorwin het.

En toe word daar swart kolletjies in ’n sekere deel van haar lyf gevind.

Tans wag en bid ons maar dat dit nie versprei nie ...

En toe word ’n niggie van my siek. Sommer baie siek.

En toe word by haar ge­diagnoseer dat sy ook die Groot K sommer in ’n hele paar dele van haar lyf het.

Ná ’n lang Koma is sy toe weg.

Net ’n week ná haar heengaan begin die groeisels aan my ou hond, Boo, se lyf baie Kwaadaardig raak.

En toe moes ek die hor­rible besluit neem dat Boo ook na ’n beter plek moet gaan.

En tydens al dié K en drama word ook baie Kwaadaardige groeisels in my neef gevind.

Verwyder

Hy moet ook onder die mes gaan.

Sy stembande is onder meer verwyder en hy praat nou met ’n voice box.

Tans wag en bid ons maar dat dit nie versprei nie ...

En so tussen al dié K en drama word vreeslik baie Kwaadaardige goed in my eks-skoonma gevind.

Kyk, ek en daai vrou het nooit saam op dieselfde planeet gesit nie, never mind om dieselfde vuur, maar daai manier van gaan, bid ek niemand toe nie.

En dis hoekom my eks en my dogter dié week ore teen die nek opgejaag het na Vryburg.

Miskien eintlik om Koebaai te sê.

En nou sit ons juis in die tyd van die Groot K.

Dié tyd van die jaar voel dit vir my asof die !@#$%^ gedrag veral op ons paaie soos, wel, die Groot K versprei.

En sommer baie vinnig en baie Kwaadaardig (aggressief) ook.

Case in point: Ek lees op News24 dat ’n hele 46 mense in die Wes-Kaap gearresteer is. Vir gesuip wees agter die stuur. En daai arrestasies is in net twee dae gedoen ...

In KZN is 81 mense al sedert die begin van die feestyd vir dronkbestuur gearresteer.

Terloops, die ou wat die dubious honour het om die hoogste bloedalkoholvlak oor die drink­ing limit in daai provinsie te hê, was 13 keer oor daai limit ...

Die hoogste spoed in ons provinsie was 157 km/h in ’n 120 km/h zone.

Ons ouens is darem nog nie so vinnig soos ons cousins in KZN nie. Dáár is ’n ou teen 193 km/h op die N2 geklok.

Skeef

Maar moenie ons Kapies skeef kyk nie. In dié tyd van die Groot K sal ons ook ons bes probeer om ons eie rekords op te stel.

En so sal die lysie net aangaan en aangaan in dié tyd van die Groot K – al die efforts van die traffic cops en ander addisionele law enforcement agencies ten spyt ...

PS: This just in: Hordes dronk mense het oor die langnaweek voor Kersfees op verskeie Kaapse strande law enforcement officials aangeval wat hulle dop wou wegvat.

Mos gesê jy moenie ons Kapies skeef kyk nie ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters