23 dae gelede
Ja, ons het slae survive, maar sommige ouers gaan oorboord
 ~ 

KYKIE, as jy nie wil hoor nie, moet jy maar jou goedjies vat en by die Constitutional Court loop woon.

Dís iets wat baie van ons nou gaan hoor nadat die hof beslis het ouers mag nie meer hulle kinders in hulle eie huis ’n pak slae gee nie.

Ironies genoeg kom dié beslissing in ’n tyd waar daar ’n noodkreet teen geweld teen vroue en kinders is.

Ek lees nog die uitspraak, maar ek glo die rede is dat sommige ouers hulle mag om te vermaan, misbruik.

Die hof se rol is om toe te sien dat geen kind se regte geskend word nie.

Wanneer ’n man of boy­friend sy vrou of meisie slaan, dan is dit natuurlik onwettig. Maar wanneer ’n ouer ’n hulpelose kind slaan, is dit nie.

Die meeste ouers se voorneme is om hulle kinders met liefde groot te maak, nie met tug nie.

Met dit in ag geneem, moet ons waak daarteen om ’n oppasserstaat te word, veral waar die regering vir my sê hoe om my eie kind groot te maak.

Die mishandeling van kinders hoort ons almal kwaad te maak.

Ja, 20 jaar gelede was ’n pak slae goed. Maar nou het tug mishandeling geword.

Het die tug-polisie al getoets of ’n kind luister na ’n ouers wat streng, maar met liefde en sonder dreigemente tug?

Die reaksie op die hofuitspraak dié week het my weer laat wonder: Was lyfstraf nie altyd maar net ’n maklike roete pleks daarvan om tyd te maak om jou kinders te tug deur hulle gedrag te verstaan en met hulle te praat nie?

Goeie waardes is tog nie iets wat jy by iemand inslaan nie?

As kind het ek sommer ’n lekker pak slae gekry. Van houtlepel tot slipper. Jong, enige ding wat my ma in die hande kon kry.

Vandag is ek (en die meeste ander wat dit deurgemaak het) okay.

Tog gaan dit nie oor my en jou nie. Dit gaan oor die driejarige wat deur sy ouers mishandel word.

Net oor dit nie in my of in jou huis gebeur nie, kan nie een van ons dit net ignoreer dat daar kinders is wat deur hulle ouers mishandel word nie.

Ons moet eerlik wees en die realiteit face.

Om jou kind ’n pak slae te gee kan ’n lewenslange letsel laat. Dis dan ’n bietjie te laat om te stop as jy hoor: “Nee, Daddy, Mammie, moenie ...”

Meanwhile hoor ek by die winkel hoe ouers klaar hulle kinders notice gegee het om te trek voordat die ouer in die tjoekie gaan sit vir tug.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters