Verlede maand
Hoekom vier ons Paasfees as so baie ongoddelike goed gebeur?
 ~ 

HOEKOM vier ons nog Paasfees?Voordat ek nou gekruisig word – het julle die skielike toename in kleutersterftes opgemerk?

Daar is niks so erg soos ouers wat hulle kind verloor nie.

Hoe moes Maria nie gevoel het toe haar seun aan die kruis hang vir ons sondes nie?

Volgens Statistieke SA is sowat 80% van Suid-Afrikaners Christene, wat in hierdie tyd Paasfees vier.

Nou vra ek jou met trane in my oë: As so baie identifiseer as Christen, in God glo en Christelike waardes het, waarom is daar so baie ongoddelike dinge wat plaasvind?

In die einste tydperk is daar jaarliks honderde wat op die land se paaie sterf.

Mense (of moet ek sê padvarke?) gehoorsaam net nie die padreëls nie.

Ons het skokkende syfers van geweld teen vroue en kinders, asook verkragting en moord.

Jy lees dit daagliks in Son. Hoeveel keer lees jy ook nie van die een of ander Godsman wat betrokke is nie?

Nou vra ek weer: Wat is dan nog die doel van Paasfees as ál hierdie ongoddelike dinge so plaasvind?

Ek wil my nou half verstout en sê dit is oor ons so goddeloos geword het dat ons, pleks van Jesus, ’n Paashaas en -eiers herdenk.

Hoekom is ’n Paashaas en vis wat in uie ingelê moet word, anyway nodig?

In 2015 het die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie aan die departement van binnelandse sake ’n besprekingsdokument gegee. Die Wet op Openbare Vakansiedae word op bl. 56 van die dokument vir algemene inligting en insette bespreek en die kommissie beveel aan “dat aangesien daar ’n element van ongelyke behandeling is, moet die afdeling hersien word”.

Daar word voorgestel óf hierdie dae word hersien, óf gelyke gewig word gegee aan geestelike vakansies van ander gelowe.”

Ek is ’n Christen, wat met streng konserwatiewe geestelike waardes grootgemaak is. As Christen wat die Woord van liefde versprei en glo in gelykheid, wonder ek tog oor die klomp vakansiedae en ondersteun ek die hersiening ten volle.

Of Paasfees, Kersfees, Eid Al-Fitr, Yom Kippur of enige ander geestelike dag nou ’n vakansiedag is of nie – jy’t steeds die reg om dit te vier.

Dit maak my nie minder van ’n Christen as dit nie is nie. Dit bring my by waarom ek moerig is: Is ons ernstig genoeg oor ons geloof om getrou te wees aan ons waardes?

Of is dit maar net ’n fees?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters