3 maande gelede
Heer, wees ons genadig, ras is belangriker as ons vaardighede
 ~ 

EK GAAN seker ná dié hel toe. Wag, laat ek verduidelik hoekom tug dalk my voorland is.

Ek verstik amper aan my koffie oor ’n boodskap wat ek ontvang. ’n Bron by die Kaapland-streeksinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika (VGKSA) laat weet van die rasseherrie daar.

Ek is uit ’n konserwatiewe familie en my oupagrootjie, wat heavy by die kerk betrokke was, draai seker in sy graf om hieroor.

Voordat ek kon vra wát? word ek vertel die eerste vrouepredikant en later moderator van die kerk, het bedank nadat sy demokraties verkies is.

Prof. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel het bedank omdat sommige ongelukkig was oor daar nie ’n 50/50-rasverteenwoordiging op die bestuur was nie.

Jong, wat het geword van “die liefde van Jesus is wonderbaar”? Is die liefde dan nie meer geduldig en vriendelik nie? Is dit nou verwaand?

Kyrie Eleison, is ons nie almal Africans wat een God aanbid nie, of het ek die verkeerde gesangboek?

Dalk as agtergrond: Die VGKSA is die ou NG sendingkerk en die NG kerk in Afrika wat een geword het.

In die don­ker jare van ons land, toe ons volgens ras geklassifiseer is, was dit die NG kerk vir kleurlinge en swartes. Die eenwording het 20 moeilike jare geneem voordat die VGKSA in 1994 gebore is.

Nou hoekom, as ons apartheid as evil ag, handhaaf die kerk apartheidstrukture?

Ons was verdruk en vandag vervloek ons apartheid.

Waarom diskrimineer die bewaarder van die Belhar-belydenis dan nou deur na swart en bruin te verwys? Is eenwording ná 24 jaar maar net op papier en nie praktyk nie?

Kyk, daar is twee dinge wat my omkrap oor die kerk wat so ras-sensitief is.

Die Bybel vertel ons is almal afstammelinge van Adam en Eva. Was dit net ’n klug?

Wat my die ergste krap, is dat ons veronderstel is om geestelik gevoed te word in die kerk.

Dit lyk dan nou dis belangriker om polities korrek te wees, pleks van jou saak reg te maak.

Jy sou dink voor ’n verkiesing in die kerk sal die leiers eers bid – nie kyk watter leier watter ras is nie.

Ek wonder hoe prof. Allan Boesak, Dirkie Smit, Jaap Durand en Gustav Bam sou voel dat ’n persoon in die kerk gekies is volgens ras en nie oor die vaardighede van daardie persoon nie.

Wat het geword van “die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles”?

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters