Verlede maand
Geen antwoorde op baie vrae maak dat WKOD toets druip
skool,laignsburg
Hoërskool Laingsburg  ~ 

HOE de d*nn*r?

Die dag toe die provinsiale onderwysminister, Debbie Schäfer, skole en kandidate gelukwens met hulle matriekuitslae, kom dit uit 25 kandidate se geskiedenisvraestelle is nie gemerk nie.

Ek weet dan nie hoe die minister nog tevrede kan wees met die slaagsyfer nie.

Kan ons nog sê dit is ’n ware weerspieëling van al die kandidate wat geskryf het?

Wat my krapperig maak, is dat daar so baie vrae is, maar daar blyk nie reguit antwoorde te wees nie.

Hel, man, dis mos nie ’n vraestel met ’n klompie opsies nie; dis ons kinders se toekoms hierdie!

Baie mense het iets te sê gehad oor die Wes-Kaap die vierde beste is en hoe die leerders wat gr. 10 begin het, nie bygetel is toe die slaag­syfer bereken is nie.

Dis alles goed en wel, maar wat van dié wat in matriek was en eindeksamen geskryf het, maar wie se antwoordstelle van verlede jaar die hele feestyd deur tot in die nuwe jaar stof opgegaar het?

Ek koop dit nie dat niemand by die skool, distrikskantoor en ’n hele departement opgelet het 25 antwoordstelle van twee vraestelle is nie daar nie.

Hoe het die rooi en groen penne die antwoordstelle dan gemerk?

Muhammad Khalid Sayed van die ANC eis nou wel dat iemand se kop rol oor die hele gemors.

Dis die stilswye van die DA, as provinsiale regerende party maar ook nasionaal, en dié van die minister wat meer vrae as antwoord-opsies gee.

Die gemors laat hang ’n moerse vraagteken oor die geloofwaardigheid van die matriekslaagsyfer.

Is dit alles net ’n thumb-sucking-oefening?

Daar hang ook ’n wolk oor die bewaring en vervoer van vrae- en antwoordstelle na en van eksamenlokale.

Om nie te praat van die betrokke beamptes nie.

Almal het nou hulle punte gekry, maar dit laat ’n mens wonder wie die antwoordstelle so gou nagesien het. Of het iemand gekrip en is ’n gemiddeld gegee?

Dis heel gerieflik om te sê die skool het (nadat die geskiedenis gemerk is) ’n goeie slaagsyfer behaal.

Of 25 leerders geskiedenis slaag of nie, het tog sekerlik ’n impak op die slaagsyfer van die skool én dié van die provinsie?

Is die voorval nou geskiedenis oor dit op die platteland gebeur het en dit net 25 kandidate is, of gaan dit die provinsie laat sleg lyk as ons daaroor praat?

As dit ’n eksamen was dié, druip die minister, ander politici en die amptenary.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters