3 maande gelede
Dis net knope en verkeersknope wanne die Kaap druppeltjies kry
 ~ 

KAPENAARS kan nie bestuur wanneer dit reëntie. Disse feit!

Kô moer my nou! Want djulle kannie ry nie wanne die pad nat issie.

Net ’n paar druppeltjies vanuit die jimmel, dan issit chaos op ôs paaie.

En dan kook die uwe se bloed mos skuimborrels.

Wragtag, Dinsdag toe die paaie weer so van bo af natgegooi word, toe issit weer ’n slakkepas oppie major routes uitie Moederstad.

Nee wag, ek beledig nou die arme slakke. Die slakke kan vinniger beweeg as die stadiger-as-staanspoed waarteen ôs daai dag beweeg het.

Magtag! Dit het my meer as 1 uur en 45 minute gevat om vanaf Roelandstraat tot by Hospital Bend te kom.

Vir dié wat nie weet nie: Van Roelandstraat oor die ou De Waal Drive tot by Hospital Bend is so 3 km.

Daardie byna twee ure het ekke met onbeskofte drivers te doen gehad. Taxi-moere druk voor djou in en hoot­ers word gedruk. En die gruwelwoorde wat mekaar toegesnou word!

Dan is daar nog die bliksems wat ook nie eens behoorlik kan wegtrek nie. Geen clutch con­trol uit die stop-en-staan-posisie nie. Die kar ruk dan dood – tot groot frustasie van die ellelange ry moeriges agter die arme drommel.

Dan is dit nog eers ’n gesukkel om die kar weer aan die gang te kry, terwyl die kwik innie are verby skroeipunt beweeg.

Weer vlieg gruwelike taal. Daar kry die arme bliksempie uiteindelik die karretjie rukkend aan die beweeg – tot amper vas in die kar voor hom. O gaats!

Dan staan ôs maar weer en wag tot dóér vêêêr voor weer ’n beweging annie gang gesit word.

Ek loer angstig deur my voorruit om te kyk wanne die briekligte van die voertuie doer oppie draai weer afgaat. Dan beteken dit mos die slakkepas kom weer in beweging.

Nou klink loeiende sirenes op! Loer gou vinnig in my truspieël. Ek sien rooi ligte. Ons maak vinnig pad!

Ek raak groen van jaloesie wanneer ek sien hoe lekker die emergency-voetuig in die nou spasie verbyjaag. ’n Oomblik dink ek daaraan om sommer agter daai voertuig in te val en ook die voordele te geniet, maar ek besluit vinnig daarteen. Laat ek maar vir volk en vaderland die sacrifices deurmaak.

Om ’n lang storie kort te maak ... Sowat twee ure later kom ek eers by my huis – en dít oor Kapenaars nie kan ry wanne dit reëntie. Kô moer my nou!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters