7 maande gelede
Die sosiale media wys in watse siek samelewing ons nou woon
Jan Swarts  ~ Foto Verskaf

SONDER skaamte en met sarkasme betoog sy hy is nie die monster wat die hof en die vermoorde se vriendekring hom uitmaak om te wees nie.

Haar getuigskrif skets hom as die sagmoedigste Neelsie met spierwit engelvlerke.

Dit lyk of hy nie ’n vlieg op sy laaste stukkie brood skade sou kon berokken nie.

Dié FaKebook-inskrywing deur ’n gesiglose “social mediapaat” het my byna sonder geloof gelaat.

Die skuilnaam wys dit is ’n vrou. Iemand het opgemerk sy is dalk die vermeende moordenaar se skelmpie.

Hy’t skynbaar die oorledene van ’n rowwe diamant tot ’n kroonjuweel geslyp. Dié vermeende vrouemoordenaar wat hof loop. Wie sou dít kon uitdink?

Verder het hy glo sy studie op ys gesit sodat sy klaar kon studeer. Hy het ’n buskaartjie namens haar bespreek en betaal en peperduur toiletries en namelekkers gekoop sodat sy classy kon lyk. Dis nou ’n opregte lover en filantroop!

Soggens voordat sy haar voete van die bed gesit het, het hy soos ’n gentleman haar badwater ingetap, presies die temperatuur wat sy verkies het. Só ’n ou verdien die titel van boyfriend van die jaar!

Toe sy nie meer kans sien om die commodity te wees waarin hy haar wou omskep nie, het jaloesie, insecurity en die duiweltjie binne hom oënskynlik van hom besit geneem. Toe vermoor hy haar blykbaar met passie ...

Dís hoe moorddadig lief hy haar gehad het.

’n Ontstelde antie het wyse kommentaar geskryf wat ek diep in my siel gevoel het: As dít is hoe ’n man ’n vrou moet liefhê en waardeer, kies sy dat haar dogters ver van óns manspesie af wegbly.

Die “social mediapaat” glo die kritiek teen die eks met die donker kant verteenwoordig nie sy persoonlikheid nie.

Hy was Prince Charm­ing wat haar soos Princess Barbie getreat het.

“Niemand sê eers vir hóm (die beskuldigde) dankie vir wat hy in haar lewe beteken het nie.”

Sokrates het mos gesê: “When the debate is lost, slander be­comes the tool of the losers.”

Hoe bedank ouers iemand wat na bewering hulle dogter se wrede einde beteken het?

Sy was in die fleur van die lewe wat sy nie met hom wou deel nie.

Sy kon haar nie teen hom beskerm nie; tog het hy daai lemme in haar lyf geboor. Hoe bedank ’n ouer ’n sadis?

Met die koms van die so­siale media is norme en waardes by die hartsvensters uitgegooi.

Hier kom die tyd aangewals dat ons weer op weer­lose vroue sal fokus. Is alles regtig oukei by die huis?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters