22 dae gelede
Daai nege verlore jare is terug en byt SA nou in die agterstewe
 ~ 

JY SIEN hulle so op die straathoeke staan.

Die jong manne, reg om k*k aan te jaag. Jou te besteel.

Jy sien jong kinders nog in skooluniform tydens skooltyd rondstap. Maar nie op die skoolterrein nie.

Jy sien die tienermammies, met die kiddy vasgestrap op die rug, daar by die verkeerslig bedel.

Jy sien doelloosheid, raadopheid, wanhopig­heid, magteloosheid, moedeloosheid, en ja, woede orals.

Want die jonges op die straathoek het al lankal moed opgegee om ’n job te kry.

So, hulle sien vir hulle ’n “career” in die gangs, want wat is daar vir hulle, of hoe?

Daai kinders in die uniforms loop nie skool nie, want wat is die use? Hulle gaan in elk geval nie werk kry nie. Dit wéét hulle.

En daai kinders met die babas vasgestrap by die robot maak maar babas, want dan kry hulle darem ’n grant.

Dié week is bekend gemaak werkloosheid het gespring van 27,6% tot ’n verstommende 29% dié jaar.

En Eksdom het boonop ’n rekordverlies gewys met die einde van die boekjaar in Maart – ’n verstommende R20,7 miljard.

En toe begin loop die rumours dat die international ratings agency Moody’s hieroor ons ou landjie se internasionale beleggingstatus na junk kan down­grade.

Maar wag ... miskien moes ek nie daardie woord “verstommend” gebruik het nie.

Sien, the chickens are coming home to roost.

Ja, daai nege “verlore jare” (Cyril se woorde) kom nou terug en byt die land aan sy gat.

Niks verstommends daaraan nie. Vir elke aksie is daar after all ’n reaksie, of hoe?

Nege jare van blatante min­agting, juis van daai kinders op die straathoeke, daai kinders in uniforms, daai kinders met hulle eie kinders – deur Zuma en kie.

Dis hulle met hulle korrupsie, blinde kleptomanie en die mismanagement van staatsinstansies deur boeties van die regime wat maak dat ons nou hier sit ...

Op die straathoeke, op die straat, en by die robot. En dink jy daai walglike ou man wat so geroggel het voor die kommissie oor staatskaping sal ooit mang? Sorry om jou bubble te bars, maar nee.

Dis middle management wat onder die bus ingegooi sal word – miskien. En nou vra almal vir ’n miracle van die messias, Cyril.

Maar ek dink ook nie eens Cyril – wat heeldag en aldag moet keer vir sy eie wickets in sy eie party – het ’n antwoord vir daai kinders nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters