5 maande gelede
DA, EFF sal sukkel om CR te troef
 ~ 

EN SKIELIK voel die meeste wetsgehoorsame burgers om saam met pres. Matamela Rama­phosa te sê: “I’m willing to lend a hand ... here am I, send me.”

Dit was ’n Sona (staats­rede) waar die hele praathuis roerend agter die pasgekose president verengig was.

Maar, nou ja, in die politiek kry ’n mens ook ’n wittebrood. En glo vir my, Cyril se wittebrood sal eersdaags verby wees.

Tog dien vermeld te word dat die opposisie dit hotagter gaan kry om stemme teen Buffalo Soldier te werf. Daar is al geluide dat afvallige kaders wat in ander partye skuiling teen die Zuma-era gevind het, by duisende na die Rama­phosa-huis kan terugkeer.

Dit op sigself voorspel massiewe probleme vir partye soos die DA en die EFF, want dis by hulle waar die kaders gaan skuil het.

Die sogenaamde clever blacks sal dit laaik om ’n clever leader soos Matamela te hê. Die man met die ekonomiese visie.

Dink net, Ramaphosa het die uitwissing van werkloosheid in sy Sona ’n Apex-prioriteit gemaak.

Hoeveel stemme kan die ANC hierdeur wen?

Hou in gedagte dat byna 8 miljoen mense werkloos is. En dan het hy ook die minimum loon ’n werklikheid gemaak.

Wie sal nie wil stem vir die party wat sulke enorme skuiwe kan laat realiseer nie? Watter party kan hom troef?

Tog wek dit agterdog dat hy soveel kommissies aangekondig het. Laat die gees van hoop en optimisme nooit gedemp word deur kommissies wat nooit gerealiseer het of nooit hul mandaat uitgevoer het nie. Die land is hoopvol.

Intussen is die DA in ’n massiewe magstryd met Patricia de Lille gewikkel.

Lank laas was dié selfversekerde, wetenskaplik bestuurde party in so ’n verknorsing. Soseer dat ’n mens lank laas van sy Vision 2029 gelees het. Dis asof antie Pat hul appelkarretjie omgegooi het.

Maar, nou ja, wat jy oorkom, is wat jy kortkom. Vir te lank het die DA gedink hy kan bruin kiesers vir granted vat.

Antie Pat het steeds die steun van haar mense, met een stem ofte not. Met of sonder die hoofopposisie, maak nie saak nie.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, moet beter aan sy party voorskryf. Is hy dan nie die main peanut in die DA-pakkie nie?

Met Julius Malema se stem gaan dit nie goed nie. Sy EFF kan nie sy eie beleid formuleer nie.

Met Zexit het die geraas waarop hy in die praathuis staatgemaak het, ook ge-exit.

Tog het Malema vir Cyril gewaarsku die Marikana-slagting sal altyd die meulsteen om sy nek wees. So ook die alewige white monopoly capital, waaraan Cyril glo gewoond geraak het.

Radikale ekonomiese transformasie is hier om te bly. Dis wat SA kort om armoede uit te wis en die gaping tussen ryk en arm te vernou.

Hoe dit ook al sy, laat ons soos die apostoliese koortjie sê: “Wie sal ek stuur en wie sal gaan? Hier is ek ... stuur my!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters