6 maande gelede
DA betrap almal onkant toe hy Antie Pat uitskop
Mmusi Maimane en Patricia de Lille. Foto: BusinessLIVE/ESA ALEXANDER  ~ 

DIE DA het dié week meer as net die burgemeestersketting by Patricia de Lille gevat.

WTF! is die reaksie van baie kiesers op dié nuus.

Mmusi Maimane, die DA-leier, was nie by die aankondiging nie en ook nie eens Dinsdag op Twitter nie.

Helen Zille se stilte het my aandag getrek. Dis immers die oudleier wat – voor al die glitter in 2010 – hard gevry het dat De Lille die DA moet join.

In haar outobiografie, Not without a Fight, skryf Zille sy en De Lille interpreteer politieke ontwikkelinge dieselfde. En met De Lille se verkiesing as mayor in 2011 moes sy haarself knyp of dit regtig gebeur.

In haar tugproses het Zille self koppe met die DA gestamp. In Junie 2017 sê sy onder meer: “Die DA volg nie sy eie grondwet nie. Die DA moet die regte prosedure volg omdat dit belangrik is vir regverdigheid.”

Maar is die skok oor die DA se De Lille-besluit die rede vir Zille se stilte?

Die beëindiging van De Lille se lidmaatskap is ook nie weens die interne FedEx-ondersoek en Steenhuisen-verslag nie.

En nog minder is dit gebaseer op die Bowman Gilfillan-ondersoek.

De Lille se lidmaatskap-fakkel is deur die DA tribe uitgedoof weens ’n radio-onderhoud.

Boonop is die onderhoud gevoer deur Euse­bius Mc­Kaiser, skrywer van DA of nie?

Heel ironies dat ’n media-onderhoud tot haar einde gelei het. Sedert die nuus oor die barste in die verhouding gebreek het, is talle joernaliste daarvan beskuldig dat hul beriggewing eensydig is.

Dalk is sommige De Lille goedgesind. Dalk stel die joernaliste dieselfde vrae as De Lille en maak nie van die mediaverklarings copy-en-paste-artikels nie.

Vir objektiewe beriggewing is dit belangrik om nie net inligting te hê nie, maar dit te verstaan en vrae te stel as iets nie sin maak nie.

Met die onlangse interne mosie is ook genoem sy het die gedragskode vir raadslede oortree.

Watter deel van die kode, wanneer is dit ondersoek en waarom het die speaker nie opgetree nie?

’n Week gelede was die DA nog vas oortuig hy het ’n sterk saak. Dit blyk nou ons sal maar moet staatmaak op leesstof en nooit weet of De Lille suksesvol sou wees in die interne verhoor nie.

Nes die reën Kapenaars onverhoeds betrap het, so het die DA almal onkant gevang deur die #AuntyOf­TheNation, soos De Lille in die sosiale media heet, uit te sit. Laat ons shut up en vir die howe wag ...

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters