7 maande gelede
Cornrows is toe maar ’n swak mombakkies toe rassis hof loop
Vicki Momberg, wat twee jaar gevangenisstraf uitdien vir haar rassistiese uitlatings, het Woensdag vlugtig in die Randburg-streekhof verskyn, voordat haar aansoek om verlof tot appèl uitgestel is. Foto: Jana Marx  ~ 

DIE Vikings het ’n sêding gehad: “Hoe swak moet jy dan wees dat blote woorde jou kan seermaak?”

Op die oog af is dit ’n lekker sterkgevreet way om die wêreld­ te benader. Net jammer dis nie die waarheid nie. En die Vikings het dit self ook geweet.

Dis dié dat die Grágás, die geskrif wat gedurende die Middeleeue as wetboek in Skandinawië gedien het, bepaal het dat ’n man iemand kon doodbliksem as hy sekere soorte aanmerkings gemaak het. (Die meeste van dié beledigings gaan daaroor dat ’n man hom kwansuis soos ’n meisie gedra het. Dit laat my wonder oor die moordsyfer onder gay Noorse mans in die Middeleeue, maar nou dwaal ek af ...)

Dié sticks-and-stones-benadering het weer by my kom spook nadat die veroordeelde rassis Vicki Momberg haar naam dié week verder krater gemaak het deur met haar super-ironiese cornrows in die hof te verskyn.

Soos een ou op Twitter dit gestel het: “Cornrows is die haarstyl-ekwivalent van om te sê: ‘Ek’s nie ’n rassis nie, ek het swart vriende.’ ”

Of soos Forrest Gump dalk sou gesê het: “Clueless is as clueless does.”

Talle glo Momberg kry presies wat sy verdien. Ander meen drie jaar in die mang is ’n bietjie van ’n oorreaksie op haar K-woorde (ál 48 van hulle).

Maar dié ouens leef in die verlede. Die wêreld het verander. Uitlatings word ál hoe meer aanvegbaar en die tone waarop ’n mens (soms per ongeluk) trap, blyk ál hoe meer so sag soos marshmallows te wees.

Ek het dié soort lewensbeskouing self onlangs ondervind toe ek dit durf waag het om ’n blonde joke in ’n Facebook-groep te vertel. Praat van liggeraak!

Soos die mense te kere gegaan het, sou ’n mens sweer ek het die lighter by Auschwitz aangegee.

Ek moes inderhaas “blonde” verander na “individu met geen spesifieke kleur, geloof of seks nie”. G’n jokes oor blondes, bejaardes, gays, Iere of kerkgroepe nie. En beslis g’n K-woorde nie. (Net “Dubul ’iBhunu” en “Awuleth’ Umshini Wami’ ”, nè?)

Intussen wonder ek of ou Steve Hofmeyr ’n uitkom-paartie vir Momberg gaan organise. Dalk word sy ’n martelaar, sjym.

Maar as ek Steve was, sou ek eerder worry oor die K-woord in sy 2011-liedjie “Ons Sal Dit Oorleef”. Is dit dan nie ook ’n klag van crimen injuria elke keer as iemand die tune speel nie? Net die Vikings sal weet ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters