4 maande gelede
Apartheid-Bok pronk nog
 ~ 

APARTHEID is dood en begrawe en ons moenie om elke hoek en draai try om lewe in dié monster te blaas nie ...

Huh!? Sê weer? Het ek rég gehoor?

Ag, c’mon, kyk met watter huppel loop daai ou spook nog brêkkerig hier tussen ons rond! Reloaded. Op die rugbyveld score apartheid steeds die meeste tries en knikker skepskoppe deur die pale.

Op lowergroen kolfblaaie laat dié groot gees nog die lopies vrylik vloei.

Ons comfort zone is lankal ’n politieke slagveld waar ons van voor af vir ons menswaardigheid moet baklei, want die “wonderkinders van Verwoerd” het weer die wapen van bevoorregting en meerderwaardigheid opgeneem.

So, die onsmaaklike voorval tussen Ashwin Willemse en sy wit mede-aanbieders by SuperSport is nie bloot toevallig of per ongeluk nie.

Dis die werklike lewe, nie ’n staged scene nie. Die base van dié betaalkanaal kan dus maar regtig hul ogies oopmaak vir dit wat lankal week ná week in Technicolor voor hulle afspeel. Haal maar asseblief daai pleister net so vinnig van daai gesonde vinger af soos julle dit opgesit het.

Apartheid is van die wetboek verwyder, maar nie uit sommige mense se hart nie.

En wys my op wie se gesig staan apartheid geskryf en ek wys jou ’n Israelse soldaat wat met ’n toy gun op Palestynse betogers skiet. Dat Nick Mallett en Naas Botha vir Ashwin Willemse as hul gelyke op die rugbypodium sien of sy wedstrydopsomming met respek aanvaar, is beslis nié waar nie.

Staak dus asseblief maar daai skynheiligheid. Bruin én swart sportlui moes (en moet maar altyd) die opdraandestryd aanpak om as suksesvol beskou te word, anders as hul wit kompetisie daar in die sub­urbs waar die gras groener is en die speelveld letterlik vir hulle gelyk gemaak is.

Ons moes (en moet steeds) altyd die ekstra myl hardloop omdat ons “histories agtergeblewenes” is.

En ons Engelsvaardigheid sal altyd in twyfel getrek word, want dié het ons mos in die “madam se kombuis” geleer!

Ons word nooit erkenning gegee as pioniers nie, want wittes gee altyd die pas aan. Só word ons misken en ondermyn – ge-patronise ...

Ashwin Willemse verdien luide applous dat hy die guts gehad het om dit duidelik te stel dat dit tyd is dat die winde van verandering so woes begin stoot dat hulle apartheid se kite aan flarde ruk.

Dat dit “bruin mense” weer trots gemaak het, is gewis. Dat ons identifiseer met Ashwin se uitsprake, dis verseker soos ’n uitkeerpolis. Die tyd om te smile en te swyg wanneer ons openlik of subtiel as BEE-babies, kwotas of agterosse ge-treat word, is lankal verby.

Ashwin Willemse het in sy rugbyloopbaan meer bereik as die here Mallett en Botha tesame. Hy is nie net ’n survivor nie, hy’s ’n achiever.

Die kwota-beskrywing pas dus hierdie twee apartheid-Bokke beter, want hulle het nooit met erkende interna­sionale spanne meegeding nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters