2 jaar gelede
Meer ANC-lede moet teen staatskaping opstaan
 ~ 

DIE tesourie is nog ons s’n.

Daar is dalk ’n trop wolwe in skaapsklere wat ons staatsinstellings en demokrasie wil kaap, maar ons stuur hulle ’n warning statement: Julle moet wakker slaap, want die burgers van Suid-Afrika hou julle dop! Die stryd teen staatskaping word verskerp.

Wat hulle op notice plaas, is die verslag oor staatskaping wat aandui hoe close ons ministers en president met die Guptas is. Die geheime drup soos ’n lekkende kraan uit. As die pype eers bars, kan talle reputasies verswelg word.

Die aasvoëls sirkel oor Nommer Een se kop. Die skeidslyne in die ANC raak ál duideliker. Daar is kenners wat meen pres. Jacob Zuma se hasepad na Nkandla kom nou vinnig nader. Sy dae is getel . . .

Die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, is darem ’n bright spark. Sy’t geweet haar tyd raak min om die ondersoek na staatskaping af te handel. Toe bou sy ’n fail-safe by haar verslag in.

Haar aanbevelings is bindend en sy het gevra dat ’n kommissie van ondersoek binne 30 dae geskep word om haar aanvanklike ondersoek uit te brei. En die hoofregter van die grondwetlike hof, Mogoeng Mogoeng, moet ’n regter aanstel om die kommissie te lei en die kommissie moet sy werk binne ses maande afhandel.

Sy was slim. Sy spaar ons belastingbetalers geld en sorg dat daar terugvoer is.

Dis nie die alewige kommissies wat jare duur en eintlik niks sê nie.

Dié week was die atmosfeer soos in die 1980’s. Kerkleiers, burgerlike organisasies, vakbonde en sakelui het gemobiliseer.

Ja, ek was aanvanklik skepties oor die Save South Africa-veldtog, maar dié week was ek trots daarop dat ons oor grense saamstaan om ons land van ondergang te red. Ek dink die president weet lankal dis tyd om te gaan, maar hy is ’n uithouer. Hy reshuffle sy spel deurlopend en die push sal uit sy eie party moet kom.

Die naam van Pravin Gor­dhan duik reeds op vir president, want hy verteenwoordig glo “die goeie” en geniet die aanhang van die oorgrote deel van die bevolking.

Vytjie Mentor, ANC-lid en voormalige ANC-LP, vertel my die grond het geskuif en daar’s al hoe meer ANC-lede wat die lig sien. Dié SA beweging wys as jy op die waarheid staan, sal jy bly staan, al waai die winde van teenkanting hoe sterk.

Toe sy destyds uitgepraat het oor hoe die Guptas haar probeer oorwen het, het die president haar ’n Judaskus gegee en gesê hy weet nie wie sy is nie.

Sommige kaders het haar van opportunisme beskuldig, maar sy’t sterk gestaan.

“Ek haat hom nie. Ek respekteer nog die kantoor van die president, maar ek respekteer hom nie. Ek is moeg dat hulle staatsgeld hul eie beursie maak”, sê sy.

“Hoekom moet Suid-Afrika opstaan? Dis ons almal se Moederland. As ons dit nie doen nie, gaan ons honger ly en ons kinders gaan sukkel om werk te kry. Môre sit ons met ’n leë land en ons staan en toekyk.”

Meer stemme uit die ANC se geledere sal moet uitpraat. Nehawu, soos die EFF, het gevra Zuma moet gaan. ’n Mens hoop nou maar die comrades laat hulle deur hul gewete lei, want die kiesers kyk wie van hulle opstaan en wie swyg . . .

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters