2 maande gelede
Wynryers wemel
NUGTER ALLEEN WEET: Tonele soos dié is gewoonlik die uiteinde van ’n bestuurdery onder die invloed van sterk drank.  ~ Foto ter illustrasie: Leon Knipe

MET die lang vakansie en Big Days op ons maak baie gesinne gereed vir die groot ontspan.

Die ekonomie is swak en Suid-Afrikaners voel die pinch. Dalk dryf dit hulle tot drank.

En steeds durf mense die lang pad aan om iewers weg van die huis te gaan uitspan.

Reeds maande voor dié tyd het ’n mens in die media gelees hoe bestuurders gemaan word dat hulle nie moet drink en bestuur nie.

Snotters

Die Stad Kaapstad het dié naweek 300 mense in padblokkades getoets.

Van hulle was 21 snotters agter die wiel.

Dis 7%. Of anders gestel, een uit elke 14 voertuie het ’n dronk ou agter die stuur gehad.

Dis skrikwekkend as jy onthou hoeveel karre in Desember op die pad is.

Dis sulke inligting wat ’n mens laat besef hoe gevaarlik die paaie is.

Jy wonder of dit die moeite werd is om dit op sulke Mad Max-paaie te waag.

Wat mense met ’n dop in die lyf nie kan of wíl verstaan nie, is dat hulle reaksiespoed agter die stuurwiel afneem met elke dop wat hulle steek.

Die vraag wat bestuurders hulle dié vakansie moet afvra, is eenvoudig: Gaan ek deel van die oplossing wees?

Of gaan ek met ’n spul dop in my lyf potensieel ’n moordenaar agter die stuurwiel van ’n kar word?

Jandre Bakker, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se departement van vervoer, sê almal moet dié feestyd verantwoordelike keuses maak om veilig te bly.

Die veiligste opsie is natuurlik om glad nie te drink as jy dit agter die stuurwiel van ’n kar gaan waag nie.

En moenie dink jy is veel veiliger as jy voetslaan nie. Een uit drie padsterftes in Desember is voetgangers.

Bakker sê bestuurders moet maar weet: Verkeersbeamptes gaan toets vir alkohol.

Uitput

Hy maan: “Drink en bestuur ondermyn indirek die stryd teen misdaad.”

Dis omdat die stryd teen wynryers wetstoepassers se mannekrag uitput wat elders beter benut kon word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters